Tamim Alam is aangewys as die 45ste Matrikulant van die Jaar.
Tamim Alam is aangewys as die 45ste Matrikulant van die Jaar.

Grey-leerder aangewys as 2026 se Matrikulant van die Jaar


BLOEMFONTEIN – ‘n Passievolle krieketspeler en waardige leier van Grey-kollege (sekondêr) is Dinsdagaand op ‘n spoggeleentheid aangewys as 2026 se Matrikulant van die Jaar vir 2026.

Tamim Alam is deur ‘n paneel beoordelaars uit die topmatrikulante as die 45ste Matrikulant van die Jaar aangewys. Die kompetisie word aangebied deur die Universiteit van die Vrystaat en Novus Media.

Braam van Wyk (links) wens vir Tamim Alam
Die skoolhoof van Grey-kollege (sekondêr) Braam van Wyk (links) wens vir Tamim Alam geluk ná die aankondiging dat hy 2026 se Matrikulant van die Jaar is. FOTO: Lientjie Mentz

Matrikulante van 15 skole oor die land heen het vanjaar om dié gesogte titel meegeding.

Die kandidate wat as die topgroep van finaliste en semifinaliste uitgesonder is, word nie net vir hul akademiese prestasies erken nie, maar ook vir hul leierskap, sport- en kultuurprestasies. Baie van die leerlinge is ook aktief by hul skole en in hul gemeenskappe betrokke. Matrikulante wat beoog om volgende jaar aan die UV te studeer, kon hulle inskryf.

LEES OOK: Matrikulant van die Jaar | Hier is die topkandidate in gesogte kompetisie.

Die finaliste is van Maandag 5 Oktober af bymekaargebring vir deelname aan die eindronde, waarin Tamim te midde van uitblinker-kandidate as die topmatrikulant na vore getree het. 

Jenna du Plessis van die Hoër Meisieskool Oranje is aangewys as vanjaar se vonkelpersoonlikheid en Francois Cilliers, ook van Grey-kollege, is aangewys as vanjaar se uitblinker in sport.

Braam van Wyk, skoolhoof van Grey-kollege, sê Tamim is ‘n ware leier wat respek afdwing en alle mense met respek behandel. “Hy is ‘n goeie voorbeeld van ‘n Grey-leerder. Ons is baie trots op hom,” het hy op die geselligheid by Monte Bello gesê.

Jeannine van Zyl (Novus Media, links) en regs is Nomonde Mbadi
By Tamim Alam, die 45ste Matrikulant van die Jaar (middel) is Jeannine van Zyl (Novus Media, links) en regs is Nomonde Mbadi (Universiteit van die Vrystaat). FOTO: Lientjie Mentz

Tydens die finale beoordeling is die finaliste onder meer deur verteenwoordigers van die borge ondervra. Die kompetisie se ouditeurs, Forvis Mazars, was deurentyd teenwoordig om toe te sien dat die beoordelingsproses glad en regverdig verloop.

Die Kovsie-Alumni Trust is weer die hoofborg van die kompetisie met ’n bydrae van R125 000. Ander borge is Absa (R120 000), Pick n Pay Preller Walk (kombuisware vir die finaliste) en Forvis Mazars (R35 500).

Die wenner ontvang R25 000 se prysgeld ná registrasie in 2027 in ’n Absa-rekening, asook ’n R15 000-studiebeurs van UV-Studentewerwing.

Elkeen van die finaliste ontvang R13 000 se prysgeld ná registrasie, ’n R10 000-studiebeurs en ander geskenke van die borge, terwyl die semifinaliste elkeen R6 000 se prysgeld en ’n R5 000-studiebeurs van die UV ná registrasie in 2027 ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article