Weslander

Saldanha-gemeenskap maak alarm oor pleegsorgvertragings en druk op kinderbeskermingsdienste

Frontliniewerkers brand swaar onder druk.
Frontliniewerkers brand swaar onder druk.

Families in Saldanha het hul stem dik gemaak oor vertragings in pleegsorgplasings, gapings in kinderveiligheidsdienste en oorweldigde voorste-liniewerkers.

Wendy Kaizer-Philander, lid van die Wes-Kaapse provinsiale parlement en voorsitter van die ad-hoc-komitee, was daar om te luister tydens ‘n gemeenskapsbetrokkenheid wat verlede maand gehou is.

Die betrokkenheid vorm deel van die komitee se toesigprogram om die beskikbaarheid en doeltreffendheid van kinderbeskermingsdienste regoor die Wes-Kaap te bepaal.

Die sterk opkoms en aktiewe deelname deur gemeenskapslede, praktisyns en belanghebbendes het duidelik die diepte van kommer en passie getoon wat gemeenskappe het om die sosiale uitdagings wat kinders raak, aan te spreek.

Tydens die openbare betrokkenheid is sleutelkwessies geopper met betrekking tot pleegsorguitdagings, kinderveiligheid, toegang tot maatskaplike toelaes, geboorteregistrasies en die kapasiteit van voorste-liniedienste.

Volgens Ambeer Seanes, ‘n inwoner van Saldanha, is die gapings in kinderveiligheidsdienste en pleegsorgplasing kommerdwekkend. “Uit wat ek gesien het, kry sommige ernstige voorvalle nie altyd die vlak van reaksie wat ‘n mens sou verwag nie. Ek dink nie genoeg word tans gedoen nie. Alhoewel daar beleide in plek mag wees, is daar in die praktyk gevalle waar kinders in onveilige situasies bly of voorvalle nie deeglik opgevolg word nie.”

Seanes meen die rol wat voorste linie-werkers speel in die samelewing ook belangrik is en sy glo nie hulle ontvang genoeg ondersteuning of hulpbronne nie. “Beperkte personeel en kapasiteit blyk te beïnvloed hoe gevalle hanteer word en die vlak van opvolg wat moontlik is.”

Dit bekommer Esmarelda Mckay, ook ‘n inwoner van Saldanha en ‘n aktivis, om te sien hoeveel kinders deur die krake val, veral in die Weskus en in kwesbare gemeenskappe. “Genoeg word nie vir ons kwesbare kinders gedoen nie. Daar is goeie beleide, maar die implementering op grondvlak is swak en inkonsekwent. Maatskaplike werkers en personeel word ook bo hul kapasiteit gerek, wat die gehalte van sorg wat kinders ontvang, beïnvloed.

Mckay sê sy is hoopvol dat dinge kan verbeter, maar slegs as gemeenskappe, regering en organisasies dringend en aanspreeklik saamwerk.

Kaizer-Philander sê sy is vasbeslote dat dit wat die gemeenskap van Saldanha met hulle gedeel het, nie in ‘n verslag gaan bly nie. “Pleegsorgvertragings, agterstande in geboorteregistrasie en oorweldigde voorste liniewerkers is nie abstrakte beleidsprobleme nie. Dit is mislukkings wat kinders hul veiligheid kos. Hierdie komitee sal optree op grond van wat ons gehoor het.”

Saam met die openbare betrokkenheid het die ad-hoc-komitee ook ‘n strategiese sitting gehou om sy opdrag te verfyn en te formuleer, wat sy werk vorentoe sal lei. Die ad-hoc-komitee sal verslag doen deur middel van tussentydse opdaterings, terwyl sake ook na relevante staande komitees verwys word, voordat ‘n finale verslag met aanbevelings voorgelê word.

Kaizer-Philander sê sy sien uit na verdere betrokkenheid regoor die provinsie terwyl die komitee sy werk voortsit. “Hierdie betrokkenheid is ‘n belangrike platform om te verseker dat die stemme van gemeenskappe beleidsintervensies en toesigprosesse vorm wat daarop gemik is om die kwesbaarste in ons samelewing te beskerm.”

Lede van die publiek en ander belanghebbendes wat hul stem wil byvoeg en met die gemeenskap wil skakel, kan ‘n e-pos stuur na njamce@wcpp.gov.za of ‘n WhatsApp-boodskap na 063 118 4169.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article