Weslander

Familie soek geregtigheid vir moord op jong kroegman van Velddrif

Familie en gemeenskap wag in spanning vir die uitspraak. Foto: Noluvu Ludidi
Familie en gemeenskap wag in spanning vir die uitspraak. Foto: Noluvu Ludidi

Die ondersteuning, liefde en omgee vir John-Ray Pieterse (26), was opmerklik by die Laaiplek-landdroshof vandag (Woensdag 15 April).

Die twee verdagtes in die moordsaak van Pieterse, William Owies (50) en ‘n 17-jarige seun het vandag hul verskyning in die hof gemaak, dit ná die skokkende en geweldadige voorval op Saterdagoggend 4 April.

Die familie van John-Ray Pieterse en die gemeenskap het by die Laaiplek-landdroshof byeengekom om hul pleidooi teen borgtog te laat hoor. Video: Reginald Carolus

Pieterse en sy verloofde, Naomi Smith (30), was omstreeks 01:45 op pad huis toe ná ‘n aandjie uit toe hulle uit die bloute deur ‘n groep mense met onder meer gholfstokke in Dolfynstraat, Noordhoek, aangeval is.

Die houe het tot Pieterse se dood gelei en Smith vol beserings en bloukolle gelaat.

Met die hofverskyning vandag, het talle gemeenskapslede en familie by die Laaiplek-landdroshof vergader en in spanning gewag vir die uitspraak oor die borgtog. Plakkate met woorde soos “geregtigheid moet geskiet”, het die sterk gevoel van die gemeenskap en wat hul pleidooi is, getoon.

Dit is bekendgemaak dat die saak uitgestel is tot Woensdag 13 Mei. Die verdagtes bly in aanhouding tot dan.

Inwoners en familie het hul ondersteuning getoon in die moord-saak van John-Ray Pieterse. Foto: Reginald Carolus
Inwoners en familie het hul ondersteuning getoon in die moordsaak van John-Ray Pieterse. Foto: Reginald Carolus

Familie en vriende beskryf Pieterse as ‘n mense-mens, een wat nie op so ‘n tragiese manier van hulle weggeruk moes word nie.

Die sentimentele woord bly staan vir almal wat Pieterse geken het, “geregtigheid moet geskiet.”

Sy begrafnis vind op Saterdag 18 April om 09:00 by die Noordhoek-gemeenskapsaal plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article