Die grootste tennissterre in die wêreld weet hoe uitmergelend ‘n Wimbledon- of Roland Garros-eindstryd kan wees, maar van uitmergelende tenniswedstryde kan Casper Steenkamp (42) ook getuig.
Casper het van 6 tot 8 Maart altesaam 50 dubbelwedstryde in 51 uur op die Stellenbosch-tennisbane gespeel in die hoop om sy eie wêreldrekord vir die meeste agtereenvolgende dubbel-tennis- wedstryde te verbeter.
Casper, oorspronklik van Velddrif, het in 1998 na Paul Roos Gimnasium gekom vir skool en in die koshuis gewoon.
“Ek het ‘n tennisbeurs na Texas in Amerika gekry om daar te speel. Ek was vir 11 jaar daar en dit is ook waar ek my vrou ontmoet het,” vertel Casper.
Hy het aangehou om semi-professioneel tennis te speel, maar in 2014 besluit om na Suid-Afrika terug te trek.

Casper het sy bestaande wêreldrekord in 2023 opgestel. Dit het gekom nadat hy en sy speelmaat, Kempen Claassens, 35 agtereenvolgende wedstryde gespeel het. Vanjaar se poging was om die rekord na 50 wedstryde te verbeter.
Casper en Kempen (31) het meer as ‘n dekade gelede ontmoet toe Kempen nog student aan die Universiteit Stellenbosch (US) was waar hy ingenieurswese studeer het. Casper het sy kwalifikasies in sake- en sportsbestuur in Amerika voltooi.
Die wedstryde in Maart was nie net om hul rekord te verbeter nie, maar ook ‘n geldinsameling vir hul kerk.
“Ons werk vir die Kingdom DNA-bediening. Jesus was ons grootste geestelike voorbereiding vir die spel en ons was op Hom gefokus. Die geestelike voorbereiding was vir ons die belangrikste, want jy kan nie so iets aanpak indien die Here dit nie op jou hart geplaas het nie,” verduidelik hy.
Casper sê wat die sielkundige voorbereiding betref het, was dit effens makliker omdat die paar reeds soortgelyke sessies aangepak het.
“Ons het reeds die hoogte piek in Afrika, Kilimanjaro, aangepak. Ook die hoogste pieke van Europa, Australië, Suid-Amerika en verlede jaar die hoogste berg in Noord-Amerika in Alaska. Vanjaar doen ons ook Everest.”

Hy meen die belangrikste ding om in gedagte te hou, is dat wat ook al hulle aanpak, dit ‘n maraton is, nie ‘n naelloop nie.
Die Kingdom DNA-bediening is in 2008 begin en het wêreldwyd gegroei. Casper sê dit het die nood vir meer geld laat ontstaan en verskeie geldinsamelings is toe begin.
“Die doel is tweeledig. Eerstens om God en Sy glorie te eer, en dan om geld in te samel vir wêreldwye sendings vir die Here se visie na alle nasies.”
Die 35-wedstryd-rekord was nie Casper se eerste poging nie. In 2023 het die bediening die dubbelspel-maraton met vier spelers aangepak, maar saam kon hulle slegs 56 ure speel, minder as die bestaande rekord van 62 uur. Die tweede poging was vir die langste rally, maar eers hul derde poging was suksesvol.
Hoewel daar slegs een rekord verbeter is, was die geleenthede almal suksesvolle insamelings. Die besluit om bergpieke aan te pak, het gevolg.
Wat die spel in Stellenbosch betref, sê Casper dit was nie net 51 uur van tennis nie, maar ook deurlopende lof en aanbidding.
“Die loof en prys het ons beslis gehelp om deur die lang tydperk van spel te kom. Om te bid, selfs toe ons op die tennisbane was, was die eintlike rede vir alles. Ons krag kom alleenlik van Hom af. Die strategie was geestelik en dan slaap.”
Vir elke uur van spel mag ‘n deelnemer vir vyf minute rus. Casper verduidelik dit was belangrik om die ruskanse goed te benut deur goed gehidreer te bly en te kyk na wat jy eet. Hy meen slaap is die belangrikste fisieke komponent om deur te kom.

“Vir die eerste wedstryd was ons natuurlik baie opgewonde en ons was vars. Vir die laaste een is jy ook opgewonde, maar omdat jy die einde sien. Ons liggame was fisiek uitgeput en ons kon nie meer vinnig hardloop nie, maar ons kon die wedstryde klaarmaak. Die grootste emosie was dankbaarheid – dat die Here ons weer deurgedra het.”
Casper en Kempen het altesaam 100 spelers aangepak, met die duo wat slegs ‘n handjievol wedstryde verloor het.
Volgens Guiness se voorskrif moes die spelers ouer as 16 jaar wees, elke paar moes uniek wees en die spel moes geregistreerde skeidregters gehad het.
Na afloop van die twee dae lange spel was die eerste bederf ‘n stort en slaap, vertel Casper.
Die twee het nou al die beeldmateriaal en papierwerk aanlyn na Guiness ingedien en wag op antwoord om te hoor af hulle amptelik hul rekord verbeter het.





You must be logged in to post a comment.