Ethan Williams
Ethan Williams op die stel van die kykNet-dramareeks Beter as Gister.

Stellenzicht-leerder wen met gedig verskyning in dramareeks


Met ‘n gedig het Ethan Williams, ‘n gr.10-leerder, ‘n besonderse prys losgeslaan en kykers sal eersdaags moet uitkyk om dié Jamestowner op televisie te sien.

Vroeër vanjaar het Ethan aan ‘n poësie-kompetisie by sy skool, die Hoërskool Stellenzicht, deelgeneem.

“Dit was net vir fun. Die skool het gesê die wenner sal ‘n prys kry, maar ons is nie gesê wat dit sal wees nie. Dit was ‘n verrassing dat ek gewen het,” sê Ethan.

Die groot prys was ‘n rol as agtergrondspeler in Beter as gister, die nuwe kykNET-dramareeks.

LEES OOK: Klein Jamestowner (8) binnekort op die kassie te sien

Plaaslike vervaardigers

Die reeks is deur die skrywers- en regisseurspaar René en Corné van Rooyen geskep. Aangesien dié twee ook Jamestowners is, het hulle die poësie-kompetisie se groot prys “geskenk”.

So het Ethan maande gelede na Woodstock gereis waar sy tonele vir die reeks verfilm was. Die tiener sê hoewel hy slegs ‘n agtergrondspeler was het hy ‘n enkele sin dialoog gehad.

Die twee dae op die stel was groot pret en Ethan sê hy het ‘n goeie vriend gemaak met wie hy steeds in kontak is. “My ouma is ‘n groot Arendsvlei-aanhanger en dit was vir haar baie opwindend dat ek op ‘n televisiereeks sal wees,” sê Ethan.

Ten spyte van sy prettige ervaring, het hy geen planne om dramaskool toe te gaan nie. Hy sien wel daarna uit om homself binnekort op die kassie te sien.

Die dramareeks  Beter as gister begin volgende Dinsdag 30 Junie op kykNet (DStv-kanaal 144).

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article