Die 2026-’27-klubkrieketseisoen het die afgelope naweek vir die plaaslike spanne in die Boland begin, met drie van die Premierliga- klubs wat seges aangeteken het.
Van der Stel (VDS), die verdedigende kampioen, het die nuwe seisoen begin net soos hy verlede seisoen afgesluit het. Die Stellenbossers het in die Overberg met sy algehele vertoning ligte werk van die Hermanus-krieketklub gemaak en ‘n oorwinning van 101 lopies aangeteken.
Die tuisspan het die loot gewen en VDS gevra om te kolf. André Hanekom (47), Dylan Ross-Watt (40*) en David Botes (35) was die Stellenbossers se groot lopiema- kers vir ‘n totaal van 225/9 in 50 beurte.
Op hul beurt het die VDS-boulers die regte vrae aan die Hermanus-kolwers gerig, met veral Rayyaan Rhode (5/41) en Aiden Hanekom (3/35) wat uitgeblink het. Die tuisspan was uiteindelik almal terug in kleedkamer met die telbord op 124 lopies na 28 beurte.
Net om die draai het die studente van die Universiteit Stellenbosch (Maties) ‘n skittervertoning teen die liganuweling, Hawston-krieketklub, gelewer en met 224 lopies geseëvier. Die tuisspan het die loot gewen en besluit om te boul.
Gysbert Wege (131), Roxton Payne (42*), James Robb-Quinlan (33) en Zack Micklewright (33) het met gemak hul span na 280/7 in 50 beurte gelei.
Op die boul-front het Micklewright (3/24) en Bash Sewlal (2/13) die Overbergse kolwers vir ‘n skamele 56 lopies uitgeboender.
LEES OOK: Spelers van Stellenbosch-krieketklub tree aan vir eerste wedstryd
Die ander US-span, die Victoriane, was ook aan die wenkant. Vics het in Pniël teen die Coronations-krieketklub te staan gekom en was net te sterk vir die tuisspan.
Die besoekers het die loot gewen, die tuisspan ingestuur om te kolf en slegs 30 beurte benodig om al 10 paaltjies te laat kantel. Zamile Admas (44) en Keano Williams (42) het goed gevaar om Corries na 121 lopies te neem.
LEES OOK: Australia thrash Proteas by 214 runs as Hazlewood stars
Christaan Wege (3/29), Nic Nejthart (3/19), Ghrislan Louw (2/8) en Gideon du Toit (2/29) het met die bal vir Vics uitgeblink.
Die studente-kolwers het hulle ook goed van hul taak gekwyt, veral Liam Basson (54*) en Sourav Choudry (39), om hul span na ‘n sewe-paaltjie-oorwinning te neem.
Die span van die Stellenbosch-krieketklub het in sy wedstryd teen Worcester United ‘n daadwerklike poging aangewend om hul seisoen goed te begin, maar kon net nie die wa deur die drif trek nie. Die Valleiers het 244/5 in 50 beurte aangeteken, met Edwin Leander (2/31) Stellenbosch se topbouler.
‘n Hondertal deur Peter Minnis (107) was nie genoeg om sy span oor die lyn te kry nie, met die Stellenbossers wat na 50 beurte slegs 17 lopies kort was (227/8).
• Bepalings vir Saterdag 17 Oktober: Van der Stel t. Hawston (Stellenbosch); Maties t. Young Peoples (Coetzenburg); Paarl-Oos t. Coronations (New Orleans); en Victoriane t. Stellenbosch (Tassies).




