Die klubkrieketseisoen in die Boland is om die draai en die Stellenbosch-krieketklub (SKK) begin reeds vroeg om sy spelers vir kompetisie voor te berei.
Die klub het op Sondag 20 September in ‘n vriendskaplike wedstryd op die Idasvallei-sportterrein besoek van die Hottentots Holland-krieketklub (HHKK) ontvang.
Die roes van die tuisspan, wat vanjaar in die Premierliga van Boland Krieket speel, was duidelik te sien en hulle het gesukkel om met die kolf en bal aan die gang te kom. Tog was dit ‘n geleentheid vir die plaaslike span om ná maande van geen spel weer op die veld te kom.
Die besoekers, wat in die 1B-liga van die Westelike Provinsie speel, het die 35-boulbeurt-wedstryd met 53 lopies beklink.
HHKK het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die SKK-aanvangsbouler Lishan Meyer het in die eerste beurt getref en het die openingskolwer Rashaad Salie vir ‘n nulletjie terug kleedkamer toe gestuur.
Daarna het die tuisspan se dissipline met die bal hulle in die steek gelaat en die HHKK-kolwers het hul kolfbeurt terug op koers gebring. Usaamah Salie (26) en Yassien Railoun (34) het in hul span se 140/10 in 24 boulbeurte met die kolf uitgeblink, terwyl Ruan Arnolds (2/29) en Peter Cyster (2/14) die beste SKK-boulers was.
Op hul beurt het die SKK-kolwers geen antwoorde vir die besoekers se boulers gehad nie en hulle is almal vir ‘n skrale 87 lopies in 31 boulbeurte uitgehaal. Die aanvangspaar van Peter Minnis (13) en Waghied Latief (14) het die meeste lopies aangeteken, terwyl Shameel Abels (3/14), Riyaad Oliver (2/5) en Imtiyaz Oliver (2/4) die Stellenbossers met die bal vermorsel het.
Die SKK-spelers se volgende opwarmingswedstryde is die komende naweek, wanneer dié klub op Saterdag 26 September ‘n interklub-krieket-karnaval by die Idasvallei-sportterrein bywoon. Die seisoen begin amptelik op Saterdag 10 Oktober.



