‘n Fisieke kragmeting wat teen ‘n meedoënlose tempo gespeel is, met albei pakke voorspelers wat mekaar stormloop ná stormloop getakel het sonder om ‘n duim grond af te staan.
Dís hoe die Superliga A-kragmeting tussen die Franschhoek-rugbyklub en Maties op die Groendal-sportterrein beskryf kan word.
Die tuisspan, wat deur die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers gebrei word, het ‘n historiese 23-22-oorwinning behaal – slegs hul tweede hierdie seisoen en die studente se eerste nederlaag.
LEES OOK:

Meyer onderskep
Van die afskop af was dit duidelik dat die wedstryd deur deursettingsvermoë en pure vasberadenheid beslis sou word.
Maties het eerste bloed geruik nadat Franschhoek ‘n strafskop afgestaan het. Die besoekers het hoek toe geskop en hul magtige voorspelers losgelaat, wat ná ‘n reeks verwoestende rolmaalbewegings oor die doellyn gebars het om die voorsprong te neem (0-5). Die doelskop het skeef getrek.
Die tuisspan het onmiddellik op skouspelagtige wyse teruggeslaan.
Die spoedvraat Alonzo Meyer het ‘n losaangee onderskep, veldaf gehol en die Maties-verdedigers agtergelaat om onder die pale te druk. Die losskakel, Willbur Boonzaaier, het die doelskop oorgeklits om die tuisspan met 7-5 voor te sit.
Franschhoek het daarna die druk behoorlik opgeskuif en Maties diep in hul eie gebied vasgepen. Hulle het besit- en gebiedsvoordeel geniet en foute by die afbreekpunte afgedwing.
Charles Williams, wat deurlopend die besoekers met sy vreeslose werk oor die bal gekwel het, het ‘n belangrike strafskop reg voor die penne gewen en Boonzaaier het die drie punte bygevoeg (10-5).

Maties veg terug
Daarna het Keene Munnik teen die verloop van spel die bal onderskep voordat Meyer losgelaat is. Soos ‘n sneltrein het hy deur Maties se verdediging geskiet om vir ‘n tweede keer agter die doellyn te kuier. Die doelskop was suksesvol (17-5).
Die tuisspan se kaptein, Justin Morgan, het deurentyd van voor gelei met kragtige lopies, goeie verdediging en inspirerende leierskap. Hy het daarin geslaag om sy span kalm te hou en aangevuur om vir elke meter te veg.
Net voor halftyd het Maties teruggeveg met ‘n goed uitgewerkte drie, maar hul stelskopper kon weer nie die ekstra punte byvoeg nie – vir ‘n rustydtelling van 17-10.
Ná rustyd het die besoekers vroeg weer gaan druk en dié keer was die doelskop suksesvol om sake gelyk te trek (17-17).
Franschhoek het met ‘n golf van aanvalle begin en die studente het ook met hul aanvalle vrae gestel, maar die tuisspan se verdediging het rotsvas gestaan. Elke laagvat het ‘n gebrul van die skare ontlok soos die tuisspan se ondersteuners hul span aangemoedig het. Toe kom die keerpunt.
Kinkel in die kabel
Franschhoek het die Maties in die skrums vernietig, hulle op hul eie invoer teruggedryf en oorrompel. Die Fransch- hoek-pak, aangevoer deur Morgan, verdien enorme krediet vir die agttal se oorheersing in die wedstryd.
Boonzaaier het met sy kanon-regtervoet ‘n strafskop van byna 50 m oor die pale geslinger, tot die skare se absolute ekstase, met Franschhoek nou 20-17 voor.
Oomblikke later het volgehoue druk Maties tot nóg ‘n strafskop-oortreding gedwing en Boonzaaier se skop het weer eens deur die pale geseil (23-17).
Die besoekers het nie gaan lê nie, alles in die slotfase van die stryd na Fransch- hoek gegooi en aanval ná aanval van stapel gestuur. Franschhoek het met passie verdedig en geweier om terug te staan.
Daar was een laaste kinkel in die kabel – met die laaste aanval van die wedstryd het Maties uiteindelik deur die verdediging gebreek en in die hoek gaan druk om die telling 23-22 te maak.
Die Maties-stelskopper het voor ‘n doodstil skare na vore getree, maar skeef gekorrel en die eindfluitjie het geblaas. Die skare het uit vreugde op die veld gestorm en ‘n onvergeetlike wedstryd met hul helde gedeel.






You must be logged in to post a comment.