Willbur Boonzaaier - Franschhoek rugbyklub
Willbur Boonzaaier, losskakel vir die eerste span van Franschhoek, probeer om ‘n laagvat van ‘n Kuilsrivierspeler af te skud. Foto: Emile Krotz

Drie klubrugbyspanne van die Stellenbosch-streek het die afgelope naweek hul onoorwonne status in hul verskeie ligas behou, deur seges in hul ligawedstryde te behaal en hul plekke bo-aan die punteleer te verseker.

Die US Maties, Blue Stars United en Blakes geniet sedert die begin van hul onderskeie seisoene perfekte lopies en sal hoop om die komende naweek op hierdie goeie vorm voort te bou.

Ook Kylemore, wat op Saterdag 9 Mei ‘n ruskans geniet het, is onoorwonne in Superliga C.

LEES OOK: Two Northern League derbies set to spice up weekend in Stellenbosch

Blakes rugbyklub
Die eerste span van die Blakes-rugbyklub vier hul sege oor Stellenbosch Coronations in die Noordelike liga. Blakes het die wedstryd met 38-24 beklink en met dit die gesogte Willem Lindoor-trofee gewen.

Superliga-uitslae

Maties het in sy Superliga A-wedstryd teen Tygerberg in die Danie Craven-stadion ‘n 32-27-oorwinning behaal. Beide spanne was voor die naweek onoorwonne en het die twee boonste plekke op die punteleer beklee.

Soos die eindtelling getuig, was dit ‘n harde wedstryd, met die studente wat eers aan die einde die wa deur die drif kon trek.

Vir Franschhoek was dit nie só ‘n gelukkige einde in sy SLA-stryd teen Kuilsrivier nie. Hy het met 10-23 op die Groendal-sportterrein die knie gebuig.

In Superliga C het Pniël Villagers weer sy wen-momentum teruggekry deur Atlantis op laasgenoemde se tuisveld met 24-26 te klop.

Raithby Universals het ook sy eerste oorwinning van die seisoen beklink, deur Langa in die Langa-stadion met 21-27 te verslaan.

Spogrugby

Die Noordelike liga het vir groot opwinding gesorg, met twee derby’s wat gehalte-rugby opgelewer het. Blakes het met sy 38-24-sege oor Stellenbosch Coronations nie net die gesogte Willem Lindoor-trofee gewen nie, maar ook sy onoorwonne status behou.

Op die Nietvoorbij-sportterrein het Excelsior ligte werk van Cloetesville gemaak en ‘n oortuigende 14-42-oorwinning aangeteken.

Blue Stars United van Klapmuts het weer eens sy stem dikgemaak en sy perfekte wenrekord vir die seisoen behou deur Police Blackheath met 8-38 te verslaan.

Wedstrydbepalings

Op Saterdag 16 Mei is daar weer drie derby’s waarna ondersteuners kan uitsien – mits die speelvelde ná die week se reënval in ‘n speelbare toestand is.

In SLA sal Franschhoek op Groendal hoop om sy seisoen om te swaai en ‘n stokkie voor Maties te steek, maar dit sal nie ‘n maklike taak vir die tuisspan wees nie.

Van der Stel-Evergreens is ook weer in aksie in SLA, wanneer hy Brackenfell by die Van der Stel-sportterrein verwelkom.

Die Stellenbosch-span sal hoop om sy nederlae sedert die begin van die seisoen agter hom te sit, maar met die klub se afname in spelergetalle is dit onwaarskynlik dat hy aan die wenkant sal wees.

In SLC is beide Raithby Universals en Kylemore Saterdag in aksie, met RU wat tuis teen Atlantis speel en Kylemore wat ná sy loslootjie na Eersterivier reis.

Twee derby’s in die Noordelike liga gaan vir groot opwinding sorg – Blue Stars speel gasheer vir Cloetesville en Excelsior en Blakes meet in Cloetesville kragte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article