Lectern mic debate
Twee debatspanne van die Dagbreek-koshuis het skoonskip by die Dink-of-Sink-kompetisie gemaak. Foto: Clint Patterson/unsplash

Die Dagbreek-manskoshuis by die Universiteit Stellenbosch (US) het vanjaar by die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente stof in hul teenstanders se oë geskop.

Twee spanne van dié koshuis is verlede maand as onderskeidelik die wenner en naaswenner van dié kompetisie gekroon nadat hulle in hul finale debat teen mekaar te staan gekom het.

Die uitdun- en uitkloprondes het op Vrydag 24 en Saterdag 25 April by Aros in Pretoria plaasgevind, waar al 12 deelnemende spanne aan drie debatte deelgeneem het.Daarna het die agt beste spanne na die uitkloprondes deurgedring.

Die span van Dagbreek 2
Die span van Dagbreek 2 was die wenners van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie. Van links is Carien Bloem (AfriForum), Artho Saayman, Rudolph Jordaan, Christiaan Burger, Adriaan Nel, Nicolene Müller (AfriForum) en Kallie Kriel (AfriForum se uitvoerende hoof).

Mosies dek wye terrein

Vanjaar se mosies het gefokus op politiek en regte, ekonomie, filosofie en taal.

Die 12 spanne van StudentePlein en die Dagbreek-manskoshuis aan die US, die Universiteit van Pretoria (UP), Noordwes-Universiteit en Akademia het hul debatsvaardighede gewys deur ­hierdie uitdagende mosies binne een uur se voorbereiding baas te raak.

Gedurende die gala-aand het Dagbreek 1 en Dagbreek 2 oor die mosie “Hierdie huis glo dat politieke leiers strafregtelik aanspreeklik gehou moet word, selfs al destabiliseer dit die politieke landskap” gedebatteer.

Die naaswenners was Dagbreek 1
Die naaswenners was Dagbreek 1, van links is, Carien Bloem (AfriForum), Steffan Thielen, Jacques Ferreira, Christiaan van der Merwe, Hechter Ferreira, Nicolene Müller (AfriForum) en Kallie Kriel (AfriForum).

Die Klein Blou Tongetjies van Dagbreek 2, waarvan Adriaan Nel, Rudolph Jordaan, Artho Saayman en Christiaan Burger ‘n debatteerder was, het uiteindelik koning gekraai.

Die Blou Tonge van Dagbreek 1, wat uit Christiaan van der Merwe, Steffan Thielen, Hechter Ferreira en Jacques Ferreira bestaan het, was die naaswenners.

Ferreira het ook die prys vir beste spreker ontvang, terwyl Adriaan Nel die “Wooden Bell”-prys gewen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article