glasses stock image
Leerders van Brückner de Villiers Primêr kan nou veel beter sien danksy die hulp van die Rotariër-klub van Stellenbosch en die span van Van Neel Oogkundiges. Foto: Unsplash

Rotariërs skenk brille vir leerders van Brückner de Villiers Primêr

glasses stock image
Leerders van Brückner de Villiers Primêr kan nou veel beter sien danksy die hulp van die Rotariër-klub van Stellenbosch en die span van Van Neel Oogkundiges. Foto: Unsplash

Daar is talle oogies by Brückner de Villiers Primêr wat nou beter kan sien danksy die Stellenbosch Rotariër-klub en Van Neel Oogkundiges se gemeenskapsuitreik.

Myrtle van Neel het onlangs sowat 100 leerders van dié Idasvallei-laerskool se oë getoets. Die leerders wat dit die nodigste het, het dan ‘n splinternuwe brilletjie gekry, danksy die Rotariërs.

“Die kinders sien letterlik die wêreld in ‘n ander lig,” sê die Rotariër Chris van der Leij.

LEES OOK: Stellenbosse Rotariërs staan naskoolsentrum in Idasvallei by

Brückner de Villiers Primêr
Etlike leerders van Brückner de Villiers Primêr kan nou veel beter sien danksy die hulp van die Rotariër-klub van Stellenbosch en die span van Van Neel Oogkundiges. Saam met die leerders is, agter van links, die oogkundige Myrtle van Neel, Chris van der Leij, skoolhoof James Isaacs, en die president van die plaaslike Rotariër-klub, Monique Labat. Foto: Yaël Malgas

Aanwins vir leerders

Benewens die verskeie skole in Kayamandi, Cloetesville en Idasvallei wat deur die plaaslike klub bygestaan is, is soortgelyke uitreike ook in Macassar gedoen – hier waar die skoolhoof, James Isaacs, en Van der Leij jare gelede ontmoet het.

Isaacs sê die program is beslis ‘n aanwins vir die leerders, omdat talle van hul ouers nie ‘n nuwe bril kan bekostig nie.

Die skool identifiseer eers leerders wat moontlik ‘n bril nodig het. Dan word die oogtoetse pasella deur Van Neel gedoen.

Sy sê dit is verbassend hoeveel leerders werklik ‘n bril nodig het, maar nooit die geleentheid kry om een aan te skaf nie.

“Sommige leerders gaan deur hul hele skoolloopbaan sonder ‘n bril, maar dan het hulle dit só nodig. Hierdie projek het ons reeds in 2019 begin en werk saam met die Rotariërs, want ons moet help. Jy sal verbaas wees hoe swak sommige van die leerders se oë is. Indien nodig verwys ons ook die leerders na spesialiste en leer hulle oogoefeninge,” verduidelik Van Neels.

Verbeterde sig

Leerders soos Cayden Wenn (10) het by die gemeenskapsprojek baat gevind en sê hy kan sy skoolwerk baie beter sien.

“Ek kan ver sien, maar wanneer ek nie my bril aan het nie, dan kan ek nie goed sien nie. Dan lyk alles vaal,” vertel dié gr.4-leerder.

Geina Lalo (11) het ook haar eerste bril gekry – ‘n spoggerige deurskynende pienkraam bril. “Ek kon nie naby sien nie, maar nou kan ek alles sien. Ek kan ook baie beter die bord voor die klas sien,” sê sy.

Dié langtermyn Rotariër-projek beoog om uiteindelik nog leerders te help sien.

LEES OOK: Swop the boardroom for the riverbank for first duck race in Stellenbosch

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article