Vir die inwoners van Azaliastraat in Tennantville is die stank van riool ‘n daaglikse bedreiging.
Hul ervaar dié probleem sedert die Stellenbosch-munisipaliteit verlede September, na bewering sonder kennisgewing, ‘n nuwe dreinstelsel geïnstalleer het.
Die nuwe pype het glo ook al vyf of ses keer gebars, waarna rioolwater in huise gestroom en verskeie inwoners begin siek word het.
“Daar was nie briewe uitgestuur nie,” beweer Silomia Meyer (53). “Ons het net gesien dat hulle hier grawe.”
LEES OOK: Riool ‘n kopseer vir inwoners van Pniël

Van bakboord na stuurboord
Die krisis het glo op 31 Oktober ‘n gevaarlike punt bereik toe rioolwater in agterplase en huise ingestroom het. “Die dreine in die straat, die agterplase en die kombuisdreintjies het almal opgestoot.”
Rioolwater het glo tot in sitkamers en slaapkamers gevloei. Charles Meyer (61), wat ook geraak is, se stryd vir skadevergoeding het van November tot Februarie vanjaar geduur.
Hy is van bakboord na stuurboord gestuur voor hy deur die munisipaliteit uitbetaal is. Tog sê hy dít weerspieël nie die leed nie.
“Die trauma wat ek deurgegaan het . . . My vrou was nog besig om kos te maak toe die dreine opstoot. Tot op die huidige oomblik het geen munisipale bestuursmense my eiendom besoek nie.”
By sy woning en dié van sy buurvrou, Elizabeth Solomons, het die water “amper soos ‘n geyser gespuit”. Meyer se kamermure en meubels is beskadig.
Die inwoners meen die nuwe stelsel hou ‘n gesondheidsrisiko in en sê baie inwo- ners, veral die pensioenarisse, is permanent siek weens die voortdurende stank.
“Elke maand as hulle die deksel kom oopmaak om die dreine te spuit, moet ek my deur en vensters toemaak, want ‘n paar dae daarna begin my maag al weer,” vertel Meyer. Ander inwoners kla van alewige maagkrampe.
Op Kersdag was dit so onaangenaam dat inwoners nie hul Kersetes kon geniet nie. “Vlieë het ons huise oorval,” vertel Meyer. “Jy kan nie eers jou brood vir ‘n sekonde los nie; jy moet dit onmiddellik toemaak, anders sit die vlieë daarop.”

Besware val op dowe ore
Die inwoners het aanvanklik gedink dis modderwater, maar later besef dis rioolwater. Die dreinstelsel is glo 36 jaar oud en is nooit opgegradeer nie, terwyl inwoner-
getalle gegroei het. Pype wat Cloetesville se rioolwater moes afvoer, is blykbaar afgesny voor hulle die korrekte eindpunt bereik het. “Al die riool van Cloetesville kom af na Tennantville en stop net daar; dit is amper soos ‘n toilet,” sê Meyer.
Die gemeenskap beweer hul pogings om hulp met die eerste voorval te kry het op dowe ore geval. Die plaaslike raadslid en munisipaliteit se beheerkamer is eers gebel. Die volgende dag het ‘n ander raadslid opgedaag, self erken dis “ondraagbaar” en belowe hy sal die kwessie aanspreek, maar inwoners het nie weer van hom gehoor nie.
Hulp het eers vier maande later gekom nadat Meyer in Maart vir Isaac Davids van die PMC gekontak het.
Davids het die volgende dag uitgekom. “Sedertdien het hy werk gemaak van die probleem en na elkeen se insette geluister,” sê hy.
Die gemeenskap eis dat die munisipali- teit die stelsel behoorlik herstel, weeklikse reinigingstrokke stuur, munisipale dreine van private erwe verskuif en die plaaslike skool “waar dieselfde stank al jare heers” dringende aandag gee.
Indien die situasie nie verander nie, sal hulle die Menseregtekommissie en die departement van gesondheid nader.
Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, sê die munisipaliteit sal ondersoek instel.
LEES OOK: Riool stoot in erf op





You must be logged in to post a comment.