Vredenheim Akademie
Juffrou Giselle Venter besig met ‘n les. Foto: Mauricia Petersen

Vredenheim Akadamie: Dit woel behoorlik by dié plaasskooltjie


‘n Plaasskooltjie buite Stellenbosch se leerdergetal het binne een jaar byna verdubbel – en die visie strek veel verder as die kleuterskool.

Toe die Vredenheim Akademie in Februarie 2024 sy deure geopen het, was dit met ‘n handvol kinders, ‘n omgeskakelde ou slawehuis en ‘n groot droom.

Meer as twee jaar later het dié onafhanklike Christelike plaasskooltjie op die Vredenheim-plaas buite Stellenbosch gegroei tot byna dubbel sy oorspronklike leerdertal – en die grondslag vir ‘n volwaardige skool tot gr.12 word stap vir stap gelê.

“Verlede jaar het ons 13 leerders gehad en vanjaar het ons met 26 begin. Ons is baie opgewonde daaroor,” sê die be­dryfs- hoof, Salomé Goosen.

LEES OOK: Vredenheim open eie kleuterskool

Personeel van Vredenheim Akademie
Die personeel van die skool is, van links, Giselle Venter (voorskoolse onderwyseres), Liezl Hattingh (akademiese hoof), Ilse Muller (assistent-onderwyseres), Mercy Chisambi (skoonmaker) en Salomé Goosen (bedryfshoof). Foto: Mauricia Petersen

Leer sonder druk

Die skool, wat as die Byekorf-­kleuterskool met gr.RRR tot gr. R begin het, het nou gr. 1-leerders en brei jaarliks uit namate die eerste inname groei.

Dit volg ‘n unieke multi-graad-model waar ouer leerders jonger klasmaats help en elke groep op sy eie tempo werk. Gr.R is tans vol, met ‘n waglys, en elke nuwe aansoek word deur ‘n gratis driedaagse observasie begelei sodat die skool en gesin mekaar kan leer ken.

“Ons beoog om dit so klein te hou. Ek wil elke kind op sy naam ken, en elke ouer ook.”

Elke klas het ‘n maksimum van 21 leerders, en wanneer twee grade saam is, word dit tot sowat 10 per graad beperk. Die personeelspan, wat met twee begin het, behels tans vyf lede. Nog ‘n assistent word beplan vir wanneer die grondslagfase drie grade behels.

Die buitemuurse program is ook indrukwekkend uitgebrei: Playball (Maandag), tennis (Dinsdag­oggend), RSD (Dinsdagmiddag), bergfietsry en drama (Woensdag), asook krieket in die somer en hokkie in die winter. Sommige aktiwiteite is by die skoolgeld ingesluit; ander word deur buite-­afrigters aangebied.

Een van die opwindendste toevoegings vanjaar is ‘n nuwe mini-skaakprogram wat weekliks aangebied word en kinders aan strategiese denke, probleemoplossing en konsentrasie blootstel.

Hier leer kinders sonder druk. Dit is nie net die getalle wat beïndruk nie, so ook die filosifie van die klaskamer.

Die skool volg die SOS-kurrikulum (Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum) en beklemtoon konsepbegrip bo blote inhouddekking.

“Die kurrikulum is so vol . . . ons probeer regtig konsep­kouevaslegging doen. Voordat ons na die volgende konsep beweeg, maak ons seker die kinders verstaan dit.”

Gr.1- tot gr. 3-leerders kry geen huis- werk nie, ‘n beleid wat baie ouers verwelkom. Die rede is eenvoudig: Onderwysers verkies om die skooldag waar nodig effens bo die druk van take tuis te verleng.

Voete op die plaasgrond

Deurlopende assessering ­gebeur onopvallend en kinders weet dikwels nie dat hulle geëvalueer word nie. Die emosionele welstand van elke kind word deurgaans ­vooropgestel, iets wat bewustelik in die dagrooster ingebou is.

“Die atmosfeer by ‘n skool is baie belangrik – die kinders moet ontspanne wees en veilig voel.”

Hierdie filosofie strek ook na wiskunde-onderrig. Leesvaardigheid en emosionele stabili­teit word as onlosmaaklik van sukses in wiskunde beskou.

“Indien ‘n kind nie goed kan lees nie, sal hy ook nie goed kan wiskunde doen nie. Jou emosionele brein en jou wiskundebrein loop hand aan hand.”

Die unieke plaasmilieu bly een van die akademie se grootste troefkaarte. Kinders leer meetkunde met werklike houers van die huis af, besoek die plaasdiere en wildplaas en plant groente in die skool se tuintjie.

Praktiese blootstelling gaan altyd die abstrakte werk vooraf – konkrete ervaring eers, dan twee-dimensionele of geskrewe werk.

Ten spyte van die merkwaardige groei, bly die akademie se visie doelbewus intiem. Die doel is nie ‘n grootskaalse instelling nie, maar ‘n plek waar elke kind en ouer persoonlik geken word.

Uitbreiding tot gr.12 bly op die horison, maar word stap vir stap en jaar vir jaar met die huidige leerders bereik.

Vir gesinne wat belangstel om by Vredenheim Akademie aan te sluit, bied die skool ‘n gratis driedaagse observasie- periode. Aansoeke word deurlopend aanvaar, hoewel gr.R tans vol is.

Skakel 083 442 0084 of stuur epos aan akademie@vredenheim.co.za of met navrae.

LEES OOK: Nuwe televisie vir kinders van Vredenheim Akademie

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article