Die span van die Pleinstraat-biblioteek is gereed om die gemeenskap terug te verwelkom. Hulle is (agter van links) Grant de Mint, Stokwe Thobeka, Rinette Arendse en Bulelwa Mangele. Voor: Noma Africa Sambo, Patricia Sijaji (waarnemende hoof van biblioteke), Gail Gxuluwe en Alverisha Jason. Foto: Yaël Malgas

Pleinstraat-biblioteek weer oop vir publiek ná opknappingsprojek

Die span van die Pleinstraat-biblioteek is gereed om die gemeenskap terug te verwelkom. Hulle is (agter van links) Grant de Mint, Stokwe Thobeka, Rinette Arendse en Bulelwa Mangele. Voor: Noma Africa Sambo, Patricia Sijaji (waarnemende hoof van biblioteke), Gail Gxuluwe en Alverisha Jason. Foto: Yaël Malgas

Die Pleinstraat-biblioteek in Stellenbosch-sentraal is nou weer oop vir die publiek nadat die oudste biblioteek in die streek opgeknap is.

Die opknapping van die historiese erfenisgebou wat die biblioteek huisves het vir vele uitdagings gesorg, maar nou het die biblioteek ‘n hysbak, nuwe ablusiegeriewe en spesifieke afdelings vir alle lesers. Dit is amptelik op Woensdag 24 Junie heropen.

Die Stellenbosse burgemeester Jeremy Fasser beskryf die opknapping as ‘n mylpaalprojek vir die munisipaliteit.

“In 2022 het die biblioteek-departement hierdie ambisieuse projek aangepak met ‘n duidelike visie om ons mees historiese biblioteek in ‘n moderne, toeganklike en dinamiese spilpunt te omskep wat nie net voorsien in die ontwikkelende behoeftes van ons gemeenskap nie, maar ook gereed is vir die 21ste eeu,” vertel Fasser.

LEES OOK: Munisipaliteit open sentuiglike tuin, VKO-biblioteek vir kinders in Idasvallei

Pleimstraat-bibilioteek
Groot opwinding het Woensdag 24 Junie in Stellenbosch geheers toe die ­Pleinstraat-biblioteek sy deure met ‘n splinternuwe en kleurvolle baadjie heropen het. Die burgemeester, Jeremy Fasser, en lede van die burgemeesterskomitee sowel as personeel van die Pleinstraat-biblioteek het die nuwe kinderafdeling bewonder. Foto: Yaël Malgas

Talle veranderings

Nuwe rekenaars is nou beskikbaar vir almal, van entrepreneurs tot werksoekers.

Die leesstof is ook bygewerk met die boeke wat van 48 000 tot 24 000 verminder is, maar volgens Patricia Sijaji, waarnemende hoof van Stellenbosch se biblioteke, is meer moderne en toepaslike boeke aangeskaf. Tieners het nou ook hul eie afdeling, langs die grootmense op die grondvloer.

Volgens Sijaji se voorganger, Sarala Majudith, wat die bal vir die opknapping aan die rol gesit het, was die opknapping daarop gemik om meer voete terug in die biblioteek ná die grendeltyd te kry.

“Die biblioteek het destyds verskeie leemtes gehad, maar met die opknappings is daar ‘n fokus op vroeëkinderontwikkeling (VKO) en die gebou is meer inklusief vir diegene met gestremdhede, ouers met stootwaentjies en regtig enigeen wat van die hysbak gebruik wil maak,” verduidelik sy.

Met die uitbreiding van kunsmatige intelligensie en die internet was dit ook belangrik om hierdie aspekte in die biblioteek se aanbiedinge te inkorporeer.

Vir die kleintjies

Nou het die kleinspan hul eie afdeling op die eerste verdieping met vele VKO-materiaal, speelgoed en selfs ‘n poppekas.

Opvoeders van Lynedoch Community School sê hul leerders sien reeds daarna uit om weer dié biblioteek te besoek. “Ons leerders het elke twee weke die biblioteek besoek om hul boekies uit te neem en daar was vele aktiwiteite wat die personeel vir hulle aangebied het. Daar was lees-sessies en die spelkompetisies,” sê Janine Jaftha.

Inwoners wat ‘n nuwe biblioteekkaartjie wil hê, moet hul identiteitsdokument en bewys van adres saambring.

Die biblioteek is Maandae, Woensdae en Vrydae oop tussen 09:00 en 17:00; en 09:00 tot 17:30 op Dinsdae en Donderdae, en Saterdae tussen 08:30 en 12:00.

LEES OOK: Jamestown-biblioteek is weer oop!

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article