Die liefde, leed en stoute streke van die Hoërskool Lückhoff se matriekklas van 1976 is onlangs deur oud-leerders in die boek Matriek 50 jare later vasgevang.
In die boek deel alumni staaltjies oor hul laaste jaar by die skool, wat die boikotte teen die destydse Apartheidsregering ingesluit het.
Die boek, wat deur Gameeda Henry (neé Geraldine Cyster) saamgestel is, is op Woensdag 23 September in die Lückhoff-skoolsaal bekendgestel.
LEES OOK: Kookboek van bobaas Pniël-kok vier ware kontreikos

Stories gedeel
Die destydse hoofmeisie, Colleen Biscombe, het die agtergrond geskets oor haar matriekjaar sowel as haar jare as musiekonderwyser by dieselfde skool. Biscombe sê synde sy reeds 42 jaar aan die skool verbonde is, is haar bloed nou “potblou” soos die skool-kleure.
Die vierde generasie van Biscombe se familie is tans leerders by die skool.
Henry het vertel oor die samestelling van die boek en hoe slegs 19 van die 48 destydse leerders hul stories gedeel het.
Twintig lede van dié matriekklas is al oorlede. “Ek is baie dankbaar vir diegene wat wel hul stories gedeel het, want toe kon jy sien wat van elkeen geword het. Toe ons weg van die skool af is, het ons nie kontak gehad nie. Die boek het ons weer bymekaargebring,” verduidelik sy.
Talle van die alumni het die onderwys betree en ander, soos Christopher Swarts, is na die buiteland vir stories en meer.
Benewens die herinneringe oor goeie tye wat gedeel is, is die oud-aktivis wyle Donovan Wanza ook vereer.

Beeld opgedra
Maghmoed Kara het agtergrond geskets oor Wanza se aktivismewerk en hoe dié Cloetesviller uiteindelik in hegtenis geneem, gemartel en later dood is.
Wanza se jonger broer Benjamin het vertel van sy ouer broer se grootwordjare. “Donavan was baie lief vir grappe maak, maar hy was ook ‘n baie diep mens. As die jongste broer was ek die een na wie hy altyd omgesien het,” onthou hy.
“Hy was aktief by die anti-Apartheidbeweging in Stellenbosch betrokke en was later ‘n teiken vir die veiligheidspolisie. Hy was die eerste matrikulant in die gesin en het ná skool as ‘n algemene werker op skepe gewerk en só die wêreld gesien.”
Voor sy dood was Wanza minder by politiek betrokke, maar volgens sy familie het dit wat met Wanza in die tronk gebeur het, tot sy dood gelei.
Die familie is daarvan oortuig Wanza is deur die veiligheidspolisie vergiftig.
In September 1980, een Sondagmiddag, het Wanza skielik siek geraak en nadat hy in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem is, het hy vinnig agteruitgegaan.
Hy het in die bestek van ‘n paar dae blind en doof geraak en is in die hospitaal oorlede.
Ter nagedagtenis van Wanza is die Vryheidsveer, ‘n metaal-beeldhouwerk, geskep en aan die Lückhoff-alumni opgedra.
Ten spyte van die trane was daar ook baie pret en bymekaarkoms by die boekbekendstelling met talle geselsies, drukkies en ou foto’s om te besigtig.
LEES OOK: Stellenbosse historikus op ‘n 146 006 km reis na land se fonteine






You must be logged in to post a comment.