Opreisfontein Prof Matilda Burden
Opreisfontein, die nuwe boek deur prof. Matilda Burden.

Stellenbosse historikus op ‘n 146 006 km reis na land se fonteine


Van Kraaifontein tot Matjiesfontein en Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein, prof. Matilda Burden het die afgelope sewe jaar deur die land gereis op soek na fontein-plekname.

Burden, prominente Suid-Afrikaanse kultuurhistorikus en senior navorser by die Universiteit Stellenbosch-museum, het Woensdag 10 Junie haar jongste boek, Opreisfontein, by die Rupert-museum bekendgstel.

Hier het Burden vertel van die meer as 146 006 km wat sy en haar man, Hugo, gereis het om 5 600 fontein-plekname op te spoor. Deur die reistog het die paar, volgens Burden, die mooi en die lelik van die land verken.

LEES OOK: Uitstalling belig Eikestadse dorpe

Matilda Burden, kultuurhistorikus en senior navorser,
Prof. Matilda Burden, kultuurhistorikus en senior navorser, oorhandig ‘n getekende eksemplaar van haar jongste boek Opreisfontein aan Isak van der Merwe, voorheen van die plaas Badsfontein in Murraysburg-distrik, by die boekbekendstelling verlede week. Foto: Yaël Malgas

Soet en suur

Oor die projek sê Burden daar is geen roem of finansiële voordeel in só ‘n projek nie; ‘n mens pak só ‘n projek aan omdat jy omgee. “Omgee vir die taal, omdat dit jou moedertaal is en wat soveel ongelooflike woorde het wat plekname kan laat sing,” meen sy.

Die fonteine spreek soms van die soet en die suur van plekke se ontstaan of dalk spreek die name tot die mense van dié gebied.

Benewens haar liefde vir Afrikaans was dit ook Burden se strewe om kultuurerfenis vas te vang en te behou wat sy die jare lange projek aangepak het.

“Die gebruike en gewoontes, behoeftes en begeertes wat in die name uitgespel word, vertel die verhaal van pioniers wat so ver as wat hulle getrek het, op ‘n daaglikse basis kultuur geskep het.”

Burden het foto’s van meer as 3 000 naamborde in haar boek gedruk, omdat die naamborde asook die gebruik om hulle op te rig, besig is om verlore te gaan. Die gebruik van die naamborde is uniek aan Suid-Afrika, vertel Burden, met boere in ander lande wat slegs “hier en daar” naamborde oprig.

Speel en sing

Hoewel die reistog ‘n besonderse ervaring was, was die deeglike navorsing om al die name te vind by tye ook ‘n uitmergelende taak.

Ure van landkaarte bestudeer en GPS-koördinate nagaan, is gedoen. Danksy geld van onder meer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Erfenisstigting, is die navorsing behartig.

Tydens die reistog het die Burdens vir 358 dae gereis, by 165 gastehuise oornag, sowat 20 stukkende of pap bande gehad, en een dag het die paar vir twee ure gesukkel om uit die sand in die Richtersveld te kom, nadat hulle daar vasgeval het.

“Afrikaans speel en sing in fonteinname. Dit bring die humorsin van sy sprekers na vore en die naamgee is deel van die proses om die swaarkry te verwerk en die lekkerkry te onthou. Ons mense is soos die fontein van die dag, sommige spuit, ander drup, sommige sterk en ander stadig,” sê Burden.

  • Om te weet watter fonteinnaam die meeste voorkom, waar die meeste naamborde gevind is en hoeveel unieke fonteinname sy gevind het, stuur gerus ‘n e-pos na mb4@sun.ac.za of skakel Burden by 082 771 8278 om ‘n boek te koop.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article