Erfenisdag in Pniël
Pniël-digter Florencce Phillips lees een van haar skeppings voor. Hierdie gedig, wat onlangs ‘n Avbob-poësieprys verower het, is getitel “Genoeg is genoeg”. Foto: Yaël Malgas

Pniël se mense vier hul erfenis met dans, staaltjies, poësie en meer

Erfenisdag in Pniël
Pniël-digter Florencce Phillips lees een van haar skeppings voor. Hierdie gedig, wat onlangs ‘n Avbob-poësieprys verower het, is getitel “Genoeg is genoeg”. Foto: Yaël Malgas

Erfenisdag (Donderdag 24 September) is op verskeie maniere in en om Stellenbosch gevier en in Pniël het dié dorp se inwoners byeengekom om hul erfenis te deel.

By die plaaslike museum het tieners van die meisiesbrigade gedans, inwoners staaltjies gedeel oor hul kinderdae en poësie is onder meer gedeel.

Die digter Florence Phillips het verskeie van haar verse voorgelees. “Hierdie Hande” was ter ere van haar 95-jarige ma, en ‘n ander, “Genoeg is Genoeg”, is Phillips se kommentaar oor geslagsgebaseerde geweld.

Digters van die skryfskool, waarvan Phillips lid is, het ook van hul werke voorgedra aan die gehoor.

LEES OOK: ‘Skryf jou geskiedenis vir al jou nageslagte’

Herinnerings gedeel

Inwoners soos die voormalige onderwyser Thelma Lackay het staaltjies vertel van haar kinderdae in die dorpie se kloof met die verskeie gesinne en die sin van gemeenskap wat geheers het.

Lackay het vertel van al die dorpie se kinders wat saam gespeel het en kaalvoet rondgehardloop het.

Sy het onthou hoe sy die pak moes vat indien enige van die kleinspan te laat by die huis gekom het, omdat sy die oudste was en moes sorg dat almal betyds by die huis kom.

“Daar was die kafee, destyds die enigste winkel, en bietjie verder op was die bioskop en aan die westekant van die kloof was ons kerk. Reg bo op die kloof was die opgaardam. Dit was vir ons belangrik – jy het die kloof nodig, want dit is waar alles was,” het Lackay verduidelik.

Sy onthou goed hoe kinders koppies suiker en olie by die bure geleen het. Daar was ook diegene wat bietjie meer geld gehad het as die ander “Kloofters” en Lackay vertel hoe haar Ouma Tella haar gestuur het om 10 sjielings by ‘n buurvrou te gaan vra sodat Ouma Tella snoek van die verbygaande bakkie vir die hele buurt kon koop.

Erfenisdag in Pniël
Pniël se meisiesbrigade het ‘n dans vir die gehoor opgevoer. Foto: Yaël Malgas

Bioskop-stories

Een van die geliefde herinnerings wat sy gedeel het, was die ervaring van bioskop toe gaan.

“Kyk, ons het nie goed Engels verstaan nie, so ons kyk dan maar net die prentjies. Maar die films wat ons gekyk het, was so dat daar altyd ‘n held was wat gekom het om die meisie te red. Ons het heel voor gesit – soos mense in ‘n gehoor – en dan klap ons hande, want die outjie het gekom om haar te red!” onthou Lackay skertsend.

Die bobaaskok Alenor Pietersen het ook vertel haar erfenis en geskiedenis in Pniël het haar kosmaak en nuwe kookboek geïnspreer, terwyl musiek deur onder andere Justin Jefthas gemaak is.

Pniël se amptelike dorpslied, “Coram Deo”, is trots deur die inwoners gesing.

LEES OOK: Freedom of Slavery commemorated in Pniël

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article