Breek af en begin weer.
Dit was die besluit van die Stellenbosch munisipale raad verlede maand oor die klubhuis by die Idas- vallei-sportterrein.
Die klubhuis het verlede Augustus enorme skade gely ná gru-stormweer.
Benewens gedeeltes van die dak wat weggewaai het, is daar krake in die teelvloer en buitemure, en volgens ‘n verslag van die munisipaliteit se ingenieurs is daar vermoedelik selfs skade aan die gebou se fondasie.

Geen inspeksie gedoen
Volgens Rhodes Benting, voorsitter die Idasvallei-sportraad, was daar groot fout met die klubhuis lank voor verlede jaar se stormskade.
“Ons het reeds twee of drie jaar voor die stormskade tekens gesien dat daar fout met die gebou was. Die gebou was besig om te disintegreer op sekere plekke,” verduidelik Benting.
Die klubhuis is gebou met skenkings van die Nasionale Loterykommissie. Nadat die konstruksie voltooi is, is daar glo geen inspeksie gedoen om die bouwerk na te gaan nie.
Volgens die ingenieurs se verslag kon geen amptelike bouplanne en goedkeuring vir die klubhuis in die munisipaliteit se rekords gevind word nie.
Hoewel die sportklub deur die Lotery gebou is behoort dit aan die munisipaliteit.
Bedrading steek uit
Sedert die stormskade wat die gebou onbruikbaar gemaak het, het skelms en vandale die afgelope jaar hulself gehelp aan wat in die gebou se badkamers en kleedkamers is.
Skade is aangerig in al die vertrekke en elektriese kabels is weggedra. Daar is bedrading wat uitsteek en ‘n gevaar inhou.
As gevolg van die omvang van die skade het die munisipaliteit, ingevolge die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde van 1977, besluit om die gebou te sloop omdat die fasiliteit onveilig vir openbare gebruik is.
Benting sê die sportraad het intussen die beste gemaak van die gebrek aan ‘n klubhuis en hoop die beplande fasiliteit sal tot voordeel van alle sportkodes wees. Hy meen ‘n klubhuis met ‘n saal wat uitkyk het op die Idasvallei-sportvelde, sowel as Hoërskool Lückhoff se velde langsaan, sal goed wees.
“Daar was gesprekke met die skool dat ons van hul velde, wat tans nie gebruik word nie, vir gemeenskap-sport kan gebruik. ‘n Klubhuis wat op al die velde uitkyk, sal ideaal wees,” meen Benting.
Hy sê hoewel die gebruik van die skoolveld nie ‘n uitgemaakte saak is nie, is dit goed om vooruit te dink.
Binne twee jaar gebou
Volgens die goedgekeurde raadsitem is ‘n begroting vir die bou van ‘n nuwe klubhuis aangevra met werk wat oor twee boekjaarsiklusse gedoen sal word. “Die aanstelling van ‘n argitek met ‘n spesialisspan sal deel van die projek uitmaak,” lui die raadsitem.
By navraag het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, bevestig die munisipaliteit is van plan om ‘n “groter, beter, veiliger en meer moderne klubhuis” binne die volgende twee jaar te bou.
“Hierdie besluit is stewig gegrond op die beste belange van die gemeenskap. Dit volg op uitgebreide skakeling met relevante belanghebbendes, openbare deelnameprosesse en insette wat van gemeenskapslede self ontvang is. Die munisipaliteit sal voortgaan om deursigtig met alle relevante belanghebbendes te kommunikeer namate die projek oor die komende weke en maande vorder,” verduidelik Grobbelaar.
“Ons sien daarna uit om ‘n verbeterde, moderne en veiliger fasiliteit te lewer wat die gemeenskap vir jare sal dien.”
Amptenare van die munisipaliteit vergader vandeesweek met die sport- raad om die sloop van die klubhuis, wat na verwagting vandeesmaand sal plaasvind, te bespreek.






You must be logged in to post a comment.