Skoon riviere veldtog DWS
Inwoners van Pniël sê die Dwarsrivier is deel van dié dorpie se erfenis. Foto: Yaël Malgas

DWS-amptenare besoek Pniël vir skoon riviere-veldtog

Skoon riviere veldtog DWS
Inwoners van Pniël sê die Dwarsrivier is deel van dié dorpie se erfenis. Foto: Yaël Malgas

Goeie watergehalte vir die Dwarsrivier word deur ‘n spanpoging gelewer – en wanneer die gemeenskap, die regering en kundiges saamwerk.

Dit was die gevolgtrekking tydens die department van water en sanitasie (DWS) se besoek aan Pniël op Maandag 20 Julie. Die besoek was deel van die DWS se veldtog vir skoon riviere.

Talle Pniël-inwoners sê dié vergadering moes lankal reeds geskied het, aangesien die gemeenskap al vir jare kommer oor die watergehalte opper.

“Die meeste van ons hier het in die rivier leer swem. Ons het goue vissies en ander visse gevang en vandag is al daardie spesies bedreig,” sê Grechard Petersen, Dwarsrivier-inwoner en proporsionele raadslid van die Stellenbosch-munisipaliteit.

LEES OOK: Riool ‘n kopseer vir inwoners van Pniël

Skoon riviere veldtog DWS
Bentley Engelbrecht, ‘n wetenskaplike van die departement van water en sanitasie, verduidelik aan gemeenskapslede hoe watergehalte gemonitor word. Foto: Yaël Malgas

Swem verbode

Petersen is lid van die Dwars- rivier-omgewingsbewaringsprojek wat twee jaar gelede gestig is. Met dié projek werk lede van die gemeenskap om die rivier skoon en gesond te hou.

Petersen vertel hoe die rivier oor die jare weens gronderosie, storms en die uitvloei van die nabygeleë pompstasie verander het.

Kennisgewingborde langs die rivier verbied swem. Tog hou dit nie almal uit die water nie.

Petersen sê die rivier kan ‘n dryfkrag vir die vallei wees – indien dit in ‘n gesonde toestand gehou word. Die verwydering van bome ‘n paar jaar gelede het die rivieroewer kwesbaar vir erosie gemaak.

Inwoners wat voorheen met Eikestadnuus oor oorstroming in Riverside-straat gesels het, is ook op die vergadering genoem. Dit gebeur gereeld dat dreine en mangate in die strate langs die rivier oorstroom en rioolwater na die Dwarsrivier vloei.

Petersen sê oorstromings van rioolwater vloei na die stormwaterstelsel en dan in die rivier.

Stellenbosch se munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, sê beamptes het gevind dat baie Stellenbossers hul stormwater na die rioolnetwerk laat uitloop wat tot oorstroming van die stelsel lei.

LEES OOK: AfriForum kry groenlig vir watertoetse

Skoon riviere veldtog DWS
Stellenbosch se munisipale werkers tel rommel langs die Dwarsrivier op. Foto: Yaël Malgas

Watergehalte nagaan

Die DWS het die gemeenskap aangespoor om saam met die nasionale departement en die munisipaliteit te werk om na die Dwarsrivier, wat die gemeenskap as deel van die dorpie se erfenis beskou, om te sien.

Ntombizanele Bila-Mupariwa, hoof van waterwese vir die Wes-Kaap, sê samewerking sal die sleutel tot sukses wees.

Sy het ook saam met Bentley Engelbrecht, ‘n DWS-wetenskaplike, monsters van die Dwarsrivier geneem.

Engelbrecht het verduidelik “goggas”, spesifiek akwatiese makro-ongewerweldes, word bestudeer om die watergehalte te bepaal. Monsters word vir die afgelope 18 jaar kwartaalliks in die Dwarsrivier geneem.

Maandag het hy die watergehalte as bogemiddeld bestempel.

Dr. Christoff Truter, lid van die Universiteit Stellenbosch (US) se waterinstituut, en sy studente het op hul beurt hul water-navorsing verduidelik. Hulle het monsters van beide die Dwarsrivier en Franschhoek-gebied geneem en die inligting gedeel. Deel van hul monitering is om regstreekse data te versamel.

Indien die gemeenskap meer wil doen om ‘n goeie watergehalte te verseker, is die US-span bereid om inwoners op te lei om self monitering te doen.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article