Die familie van juffrou Emilia George was geskok en hartgebroke gelaat nadat dié afgetredene onlangs dood is nadat sy die Stellenbosch-hospitaal besoek het.
Volgens Shirlene Witbooi is haar tante verlede maand na die plaaslike hospitaal gehaas nadat sy kort van asem was. “Dit was alles so onwerklik. Sy het in al haar jare nooit nodig gehad om ‘n hospitaal te besoek nie, maar die een keer wat sy gegaan het, is sy oorlede,” vertel Witbooi.
George is op Maandag 29 Junie na die hospitaal gejaag nadat sy van borspyne gekla het. “Sy is vir ‘n vermoedelik dreigende hartaanval behandel, maar weens sekere toetse het die eindresultaat ná X-strale, verwys dat sy met pulmonêre edeem gediagnoseer is. Juffrou George, wat byna 74 jaar oud was, is deur ‘n senior dokter huis toe gestuur, waaroor ons as familie nie tevrede was nie,” vertel Witbooi.
Ons was nog nie eens 10 minute by die huis nie toe sy weer nie kon asem kry nie. Ons het die ambulaans ontbied, wat nou nog nooit opgedaag het nie. Die tweede keer nadat die ambulans nie opgedaag het nie, het ons self weer met haar hospitaal toe gejaag.
“Sy is deur ‘n ander dokter gesien wat haar weer vir toetse gestuur het, maar sy kon nie verstaan hoe Juffrou George huis toe gestuur is en so siek kon word nie. Die dokter was baie bekommerd.”

Op suurstof
Witbooi vertel haar tante is op suurstof geplaas, omdat sy “reeds baie suurstof verloor het”.
Volgens Witbooi was sy onder die indruk dat alles onder beheer was en George nou die nodige behandeling ontvang en het besluit om saam met nog ‘n familielid ‘n paar benodigdhede vir haar tante by haar woning gaan haal, in geval George in die hospitaal moes oornag.
Ná ‘n oproep van die hospitaal het Witbooi en haar niggie teruggekeer na die hospitaal, waar hulle deur ‘n verpleegster ingewag is. “Daar kry ons die skokkende nuus dat my tannie gesterf het.”
George het vir byna vyf dekades by die Laerskool Rietenbosch in Cloetesville skoolgehou. Dié skool het haar as “nederig” beskryf en het ná haar dood gesê sy het ‘n liefde vir almal gehad en “was ‘n inspirasie vir elkeen van ons”.
“Juffrou George sal vir ewig in elkeen by Rietenbosch se harte bly. Ons innige meegevoel gaan uit aan die familie. Mag die familie omvou word deur God se kosbare liefde in hul tyd van rou,” het die skool op sy sosialemediablad laat hoor.
Witbooi sê haar familie se emosies was ná George se afsterwe “onbeheerbaar” en hulle het die hospitaalpersoneel onmiddellik laat weet hulle vereis antwoorde oor George se dood. Familielede het op Woensdag 1 Julie met die hospitaal se bestuur vergader, wat volgens Witbooi glo erken het daar was nalatigheid aan hulle kant.
Dit is nie die eerste keer dat die Stellenbosch-hospitaal van nalatige diens beskuldig is nie. Verlede November het Tammy Newman van Jamestown beweer die personeel se nalatigheid het die lewe van haar 10 maande oue baba, Mileeck, gekos.
LEES OOK: Herrie nadat Jamestown-baba sterf, familie bevraagteken sorg by hospitaal
‘Dadelik gehelp, maar . . .’
Sandra Maritz, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, het gesê George is op die Maandag wat sy na die hospitaal gekom het, dadelik gehelp.
“Nadat haar toestand geëvalueer en diagnostiese toetse gedoen is, is bevestig sy het longontsteking en sy is behandel. Na aanleiding van haar toestand op daardie tydstip en die toetsuitslae, het die kliniese span bepaal dat sy veilig as buitepasiënt ondersteun kon word.
“Sy is ontslaan met voorgeskrewe medikasie. Later dieselfde dag het sy na die hospitaal teruggekeer nadat haar toestand versleg het. Haar toestand is dadelik geherevalueer en sy is behandel, maar, ongelukkig, ten spyte van ons span se beste pogings, het sy gesterf,” het Maritz verduidelik.
Maritz sê tydens die personeel se vergadering met George se familie is die kliniese besluitnemingsproses verduidelik.
Die voorval word deur die gepaste kliniese bestuursprosesse hersien.
Die departement het sy medelye betuig.
LEES OOK: Stellenbosch-hospitaal – ‘Dis nie net baba Newman’





You must be logged in to post a comment.