athletics atletiek
Die meestersatleet Christo Jefthas van Pniël het SA by die Wêreldmeesters-atletiek kampioenskap verteenwoordig.

Bronsmedalje vir Pniël se Jefthas by Wêreldmeesters-atletiekkampioenskap

athletics atletiek
Die meestersatleet Christo Jefthas van Pniël het SA by die Wêreldmeesters-atletiek kampioenskap verteenwoordig.

Slegs ure nadat hy in Suid-Afrika geland het, was die meestersatleet Christo Jefthas op Saterdag 5 September agter op ‘n bakkie om deur die Dwarsriviervallei se strate te ry.

Jefthas (71) van Pniël was onder die seniors van Suid-Afrika wat aan die Wêreldmeesters-atletiekkampioenskap in Suid-Korea deelgeneem het.

Dié gesoute atleet en afrigter het met ‘n bronsmedalje teruggekeer, nadat hy die derde plek in die 2000 m-hinderniswedloop behaal het.

LEES OOK: Sydney Maree by 16de Dagbreek-straatmyl as atletiek-legende vereer

Christo Jefthas van Pniël
Christo Jefthas wys sy bronsmedalje wat hy by die Wêreldmeesters-atletiekkampioenskap in Suid-Korea verower het. Saam met hom is familie en vriende van die Dwarsriviervallei. Foto: Yaël Malgas

Van jongs af

Benewens sy prestasie op die baan het dié “goue oue” ook sewende plek in sy ouderdomsgroep vir die driesprong geëindig.

“Dit is onbeskryflik,” vertel Jefthas oor sy prestasies in Daegu, Suid-Korea. “Gewoonlik sien ons slegs hierdie soort prestasies op die televisie, maar daar is Pappa toe self op die podium,” skerts hy.

Jefthas het jare lank by PC Petersen Primêr skoolgehou en deur sy loopbaan ook rugby en atletiek afgerig. Bekendes, soos die rugbyspelers Oswin Mentoor, Edwill van der Merwe en Herschel Jantjies, was in sy hande.

Op die vraag oor waar sy atletiektalent van kom, vertel Jefthas hoe hy as kind moes weghardloop nadat hy en sy makkers vrugte van bome gesteel het en hoe hy dan vir ‘n tweede keer die hasepad moes vat wanneer sy pa van die diefstal uitgevind het.

‘Gedissiplineerd en toegewyd’

Dit blyk Jefthas het sedertdien nooit ophou hardloop nie. As ‘n bejaarde hardloop hy steeds op die Helshoogtepad, en van Pniël af na Groot-Drakenstein of Simondium. Dié roetes was deel van sy voorbereiding vir die wêreldkampioenskap.

In Daegu was die omstandighede ‘n uitdaging. “Dit was warm – een dag 33°C en ander dae tot 40°C. Dan skielik is daar ‘n stortreën wat vinnig verby is, maar dan moet jy in daardie klimaat aan jou items deelneem,” vertel Jefthas.

Tog was die fisieke voorbereiding nie Jefthas se grootste uitdaging nie.Jefthas meen om die R70 000 in te samel wat nodig was om deel te neem, was die grootste struikelblok. Hy bedank almal wat sy geldinsamelingsbraai ondersteun het, veral Yvette Myburgh en haar man vir die organiseringswerk.

Vroulief Esmie Jefthas sê solank haar man se gesondheid hou, voorsien sy nie ‘n tyd wanneer hy nie by sport betrokke sal wees nie. “Hy is baie gedissiplineerd en sy toewyding aan sy eie oefening en afrigting is ooglopend. Ek is baie trots, want dit was sy droom om teen die beste, wêreldklas-atlete te kompeteer en homself daarteen te meet,” verduidelik sy.

Dwarsrivier-inwoners meen Jeftha se prestasies spreek vir hulself en hy is beslis die vallei se trots.

LEES OOK: ‘Multi-atlete’ van Paul Roos blink uit

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article