Dagbreek Straatmyl
Dis weer tyd vir die jaarlikse Dagbreek-straatmyl. Foto: Francois Lombard

Atlete maak weer reg vir gewilde Dagbreek-straatmyl


Die 16de Dagbreek-straatmyl, wat Woensdag 7 Oktober in Victoriastraat, Stellenbosch, beslis word, gaan weer eens nuwe talent ontgin én die legendes van weleer huldig en aan ‘n nuwe generasie voorstel.

Die jaarlikse geleentheid bied sewe wedlope met 17 afdelings – van o.10 tot ­veterane, asook die enigste skaatsplank-mylwedloop in die land.

Die voormalige wêreldrekordhouer in die 1 500 m, Sydney Maree, sal vanjaar as myllegende vereer word.

LEES OOK: Sydney Maree by 16de Dagbreek-straatmyl as atletiek-legende vereer

Dagbreek-straatmyl
Die 16de Dagbreek-straatmyl sal op 7 Oktober weer eens vir groot opwinding gesorg. Foto: Francois Lombard

Talle rekords

Maree, wat op Sondag 6 September sy 70ste verjaarsdag gevier het, het ‘n 1 500m-wêreldrekord op 28 Augustus 1983 in 3:31.24 in Keulen, Duitsland, opgestel.

Hy is die enigste Suid-Afrikaans gebore atleet wat die myl onder 3:50 gehardloop het en het altesaam 17 droommyle op sy naam (onder vier minute). In 1981 het hy die eerste 5th Avenue-straatmyl in New York in 3:47.52 gewen.

Dié rekord het vir 43 jaar gestaan totdat Josh Kerr (huidige mylwêreldrekordhouer) dit in 2024 verbeter het.

Maree het in 2003 die Orde van Ikhamanga (silwer) vir sy buitengewone bydrae tot atletiek ontvang.

Strawwe mededing verwag

Die Dagbreek-straatmyl is deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees.

Beutin Guts is terug by vanjaar se wedloop en mik om sy eerste Dagbreek-straatmyl te wen, nadat hy verlede jaar in sy buiging die tweede plek in die ope-afdeling behaal het – en ‘n droommyl net-net gemis het. Hy het ‘n goeie seisoen agter die rug, het verskeie titels gewen en Suid-Afika in Januarie by die Wêreldlandloopkampioen­skap in Florida in die VSA verteenwoordig.

Nog ‘n wêreldklas-landloopdeelnemer en die 2021-wenner van die ope-afdeling vir vroue, Kyla Jacobs, is vanjaar terug in Stellenbosch. Sy het ook ‘n suksesvolle jaar agter die rug met ‘n beste tyd van 4:14.73 in die 1 500 m in België.

Jacobs kan goeie mededinging verwag van Jade Miller, wat vanjaar vir die Studente SA Wêreldlandloopspan gekies is en die verlede maand ‘n bronsmedalje in die studentelandloop-kampioenskap gewen het. Sy was vierde op die Studente SA Spele in beide die 1 500 m en 800 m.

Nog ‘n vrou wat ‘n goeie jaar beleef, is die meestersatleet Ester Brink, wat ‘n SA meestersrekord in die 1 500 m opgestel het. Sy was ‘n afdelingswenner by vanjaar se SA Landloopkampioenskap.

Studentewedlope ‘n hoogtepunt

‘n Gereelde ondersteuner en nog ‘n afde- lingswenner, Kobie Griffiths, is ook terug. Sy het onlangs ‘n bronsmedalje op die SA Landloopkampioenskap verower.

Noleen Conradi van die Athletic Acade- my het bevestig sy bring ‘n groot groep atlete om deel te neem. Onder die atlete is meisies van die Hoërskool Stellenbosch, vars ná die ASA landloopkampioenskap. Onder hulle is Mia Basson (o.16), Devane van Rooy (o.17) en Mikayla Frits (o.19).

Die myllegende Johan Fourie se atlete van die Dogsquad sal ook weer sterk mededinging in alle afdelings bied.

Dan is daar natuurlik ook die studente- wedlope – hul kleredrag en mannewales is altyd ‘n hoogtepunt vir die toeskouers en verleen ‘n unieke karakter aan die byeenkoms.

Altus Schreuder sal weer die kommentator wees. Sy kennis en entoesiasme dra baie tot die sukses van die byeenkoms by. Tussen die wedlope sal die rassieleiers van die Hoërskool Stellenbosch toeskouers vermaak en ‘n Redbull-trok musiek verskaf.

Registrasie open om 14:00 en die eerste wedloop begin om 16:30.

Kontak Francois by 083 368 5948 of francois_fouche@hotmail.com vir navrae.

LEES OOK: FOTO’S || Dagbreek-straatmyl weer ’n reusesukses

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article