Die Stellenbosch-munisipaliteit kry binnekort ‘n honde-eenheid om met plaaslike wetstoepassing te help.
‘n Honde-eenheid, oftewel K9-eenheid soos dit bekend is, is op Dinsdag 31 Maart in beginsel deur die Stellenbosch-munisipale raad goedgekeur, met die honde wat op ‘n gedeelte van die Mountain Breeze-woonwapark gehuisves sal word. Honde sal hier grootgemaak en vir munisipaliteite se honde-eenhede opgelei word.
Ná hul opleiding sal die honde onder meer dwelms uitsnuffel, tydens hoërisiko-wetstoepassingsoptredes en in gevalle van onwettige besetting help.
Die geriewe sal ‘n opleidingsplek vir Stellenbosch se taktiese-risiko-eenheid hê.

Ander munisipale suksesse
Die inisiatief spruit uit ‘n versoek van die Wes-Kaapse departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid.
Dié departement werk reeds saam met die Kaapse metro, die Mosselbaai-, Overstrand- en Swartland-munisipaliteite, waar K9-eenhede op die been gebring is.
Eikestadnuus het na die Swartland-munisipaliteit oor hul K9-eenheid uitgereik. Volgens dié munisipaliteit is die program “ ’n reusesukses en ‘n groot aanwins vir die hele Swartland asook die Weskus”.
Mart-Marié Hassbroek, ‘n woordvoerder vir dié munisipaliteit, sê die K9-eenheid is instrumenteel in verskeie misdaadbekampingsoptredes. “Die eenheid was verantwoordelik vir verskeie groot vuurwapen- en dwelmvondse asook ander aksies wat tot inhegtenisnemings en vervolging gelei het.
“Die eenheid bedien nie net die Swartland-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid nie, maar word ook deur SAPD-eenhede in die Weskus gebruik. Die K9-eenheid word vir die deursoek van mense, persele en voertuie by padblokkades asook in landelike veiligheidsoptredes ingespan. Hierdie optredes vind alles plaas in samewerking met ander veiligheidsrolspelers,” verduidelik Haasbroek.
Die Swartland het tans nege opgeleide honde met nege opgeleide hanteerders.
Grond beskikbaar
In Stellenbosch sal die ontplooiingsfasiliteit volgens die plaaslike munisipaliteit op ‘n gedeelte van die Mountain Breeze-woonwapark wees, waar die daaglikse aktiwiteite nie met die van die woonwapark sal inmeng nie.
Hondehokke, ‘n kantoor en opleidingsgebied vir honde van die taktiesereaksiespan sowel as vir dienshonde sal gebou moet word.
Volgens die raadsitem sal die honde-eenheid ook ‘n afskrikmiddel vir kwaaddoeners wees wat munisipale infrastruktuur wil steel of vandaliseer en diegene wat die woonwapark onwettig wil beset of daar inbreek.
Benewens misdaadbekamping word die opgeleide honde ook gebruik om vermiste mense te help opspoor sowel as tydens teen-stroping-optredes.




You must be logged in to post a comment.