James Daniels
James Daniels was die eerste voorsitter van juniorrugby by Wesley RFC (later Strand Liga, nou Strand) en het die grondslag gelê vir die klub se jeugontwikkeling.

Tien spanne ding mee by James Daniels-toernooi hier

James Daniels
James Daniels was die eerste voorsitter van juniorrugby by Wesley RFC (later Strand Liga, nou Strand) en het die grondslag gelê vir die klub se jeugontwikkeling.

Die Strand-rugbyklub se James Daniels-­o.20-toernooi bring hierdie naweek 10 spanne vir twee dae se opwindende jeug­rugby teen mekaar te staan.

“Hierdie toernooi is meer as net rugby en bring almal in die Helderberg-kom bymekaar,” sê die organiseerder Llewellyn Februarie.

Dit is presies wat James Daniels, na wie die toernooi vernoem is, sou wou sien.

“Hy was ‘n vaderfiguur vir baie rugbyseuns wie se droom dit was om ‘n Springbok te word,” sê Februarie.

Hy beskryf Daniels as een van die gemeenskap se eie plaaslike helde, omdat dit vir hom nooit oor erkenning gegaan het nie, maar eerder oor die drome van jong seuns wat rugbysterre wou word.

Die toernooi is ‘n viering van daardie nalatenskap en wat jeugrugby binne ‘n gemeenskap kan bereik.

Die tweedaagse uitklopkompetisie begin Vrydag (9 Oktober) by die Charles Morkel-stadion en eindig Saterdag (10 Oktober) by die Gustrouw-sportterrein.

Al 10 spanne veg in vinnige 30-minute-­helftes vir beker-glorie. Slegs die vier spanne met die beste punteverskil ná dag een bereik die halfeindstryd. Die vyfde wenspan met die swakste syfers en alle verloorspanne skuif na die Plaat-afdeling.

Strand se jongelinge sal in die kompetisie teen hul Helderberg-bure Sir Lowrians, Macassar, Strand United, All Saints, Helderberg en St George’s meeding. Die toernooi sluit ook Whistling Wheels, Eersterivier en Delft United in.

Spankapteine en organiseerders van die James Daniels-o.20-toernooi
Tien spankapteine en die organiseerders van die James Daniels-o.20-toernooi, wat hierdie naweek by in Strand beslis word.

Die dag een-wedstryde belowe plaaslike derbies met trots op die spel. Sir Low en Whistling Wheels sal op die A-veld koppe stamp, terwyl die Valsbaai-kus-trots op die spel is wanneer die MC Boys vir United op die B-veld ontmoet.

Liga sal probeer om hul gebied teen Delft op die A-veld af te ­baken en die Olla Boys is nader aan die huis as Eersterivier en sal hul beste doen om dit tot hul voordeel te laat tel.

Die laaste wedstryd is tussen Berge en die Lulu Boys.

Dit sal ongetwyfeld wedstryde wees wat gekenmerk word deur harde, fisieke spel en blitsige tempo aangesien jeugdige geesdrif volop sal wees.

“Dit hou ons jeug uit die strate en hou ons jongmense besig,” verduidelik ­Februarie.

Hy nooi alle gesinne, oud-rugbyspelers en klubs om die pawiljoene op albei dae te kom vul en die jong spelers te ondersteun.

‘n Beroep word op plaaslike sakeondernemings en individue gedoen, wat deur middel van finansiële borgskappe steun kan bied, en ‘n borg vir die toernooi se beste speler of waterbottels asook iemand wat dienste kan lewer.

Indien jy wil skenk, kan jy Februarie by 072  906  1155 bel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article