President Cyril Ramaphosa het op navrae oor sy regering se hantering van die die Covid-19-pandemie gesê dat die saak twee kante het . . . een goeie deel, maar ook ’n kant wat ’n probleem bly.
Ramaphosa het tydens ’n onlangse ANC-middagete met redakteurs in Sandton gepraat ter herdenking van Swart Woensdag. Op dié dag, 19 Oktober, in 1977 het die apartheidsregering onder meer The World en Weekend World verbied en joernaliste, waaronder Percy Qoboza, destydse redakteur van The World, aangehou.
Ramaphosa het die regering se hantering van die Covid-19-pandemie verdedig, maar toegegee dat die verkryging en verspreiding van persoonlike beskermende toerusting (PPE) nie goed verloop het nie.
“Ons het gesukkel om entstowwe te kry. Ons moes smeek, leen, steel – wel, ons het nie gesteel nie,” het hy gesê oor Suid-Afrika se stryd om entstowwe te bekom.
Hy het Suid-Afrika met die Verenigde Koninkryk vergelyk. “Ons het verskeie maatreëls ingestel, maar hulle het nie . . . Die getal infeksies daar het gestyg, terwyl dit by ons gedaal het. Minder mense het in ons land gesterf, [hoewel] hulle oor meer hulpbronne as ons beskik.”
Die hantering van PPE was egter ’n ander storie, het hy erken.
“So, ons het twee stories. Een baie goeie storie oor die hantering van Covid, en een minder goeie storie oor die PPE’s.”
Bewerings van korrupsie met PPE-kontrakte tydens die pandemie draai steeds in die howe, met vier mense en drie ondernemings wat nog in Augustus in Mpumalanga tereg gestaan het oor ’n tender van meer as R5 miljoen.
Ramphosa het ook vrae beantwoord oor Gwede Mantashe, die nasionale voorsitter, se onlangse uitlatings teenoor ’n vroulike joernalis en die ANC se besluit om nie voor die munisipale verkiesing sy burgemeesterskandidate aan te wys nie.
