Ramaphosa bevestig Mantashe is onder skoot oor kras uitlatings

President Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images/Volksblad/Mlungisi Louw.
President Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images/Volksblad/Mlungisi Louw.

Die ANC bespreek die omstrede optrede van sy nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, wat onder skoot is oor sy uitlatings oor vroue, het pres. Cyril Ramaphosa Maandag bevestig.

Ramaphosa het tydens ’n ANC-middagete met redakteurs in Sandton gepraat ter herdenking van Swart Woensdag. Op dié dag, 19 Oktober, in 1977 het die apartheidsregering onder meer The World en Weekend World verbied en joernaliste, waaronder Percy Qoboza, destydse redakteur van The World, aangehou.

Ramaphosa is gister gevra oor Mantashe se onlangse uitlatings teenoor ’n vroulike joernalis en sy optrede teenoor ’n vroulike ANC-vrywilliger, asook sy gedrag by ’n Cosatu-kongres.

“Ek is nie iemand wat individue in die openbaar bespreek nie, maar die kwessies wat jy oor die voorsitter uitlig is kwessies wat tans in proses is om in die organisasie [ANC] bespreek te word,” het Ramaphosa gesê.

Mantashe het kritiek ontlok nadat hy tydens ’n ANC-veldtog in Noordwes kras gereageer het op ’n vraag van ’n joernalis oor bewerings dat ’n munisipale raadslid seksuele gunste van vroue in ruil vir werk geëis het.

Hy het die ANC van die beweerde optrede probeer distansieer en aangevoer dat sulke gedrag aan individue toegeskryf moet word, eerder as aan die party. In sy antwoord het hy ’n verwysing na vroue se geslagsdele gemaak.

“Die vroueliga het uitgekom, en ’n aantal ANC-leiers, sowel as [ander] leiers. So dis ’n saak wat ons sal bespreek,” het Ramaphosa gesê.

Die ANC-vroueliga het Sondag in ’n verklaring geëis dat Mantashe die joernalis en die publiek om verskoning vra. Die liga het ook ’n beroep op die ANC gedoen om hom tereg te wys en dissiplinêr teen hom op te tree oor wat hy as Mantashe se “herhaalde beledigings en aanvalle op vroue” beskryf.

Gwede Mantashe, nasionale voorsitter van die ANC en minister van minerale en petroleumbronne.
Gwede Mantashe, nasionale voorsitter van die ANC en minister van minerale en petroleumbronne. Foto: Argief.

Burgemeesterskandidate

’n Joernalis het Ramaphosa gekonfronteer oor die ANC se besluit om nie voor die munisipale verkiesing sy burgemeesterskandidate aan te wys nie, omdat dit openbare debatte en die media se pogings om moontlike burgemeesters oor dienslewering aanspreeklik te hou, bemoeilik.

Ramaphosa het die besluit verdedig: “Ons het besluit wat ons in die verlede gedoen het, het goed gewerk . . . (om) eers ná die verkiesing (te) besluit wie ons as burgemeester gaan aanwys . . . Dit verskil van wat ander partye doen, maar ons hou by die werkwyse wat ons nog altyd gevolg het.”

Die party het reeds moontlike kandidate ondervra, en joernaliste kan almal op die kortlys ondervra, het Ramaphosa gesê.

Die ANC het aanvanklik beplan om sy kandidate bekend te maak, maar dié besluit is skielik omgekeer. Daily Maverick het berig die ANC se nasionale uitvoerende komitee was bekommerd dat die bekendmaking van sy voorkeure weerstand onder ondersteuners van onsuksesvolle kandidate sou ontlok en die party se verkiesingsveldtog kon benadeel.

  • Die Papier het Mantashe om kommentaar genader. Sy kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos