Gantane Kusch weet hoe om tussen werklikheid en fiksie te onderskei, selfs wanneer kykers op sosiale media hul teleurstelling uitspreek oor die man wat hy saans op die kassie vertolk. Terwyl sy karakter, pastoor Siya Thuli, se buite-egtelike verhouding met Elzette, Justin (Eden Classens) se ma, sy huwelik met Bianca (Simone Biscombe) op die spel plaas, is Kusch se benadering tot die kritiek eenvoudig: Hy moet onthou wie hy buite Ruiterbosch is.
“Ek probeer dit nie persoonlik opneem nie. Ek het nog altyd geglo dat ek nie vir ander mense se goedkeuring leef nie,” sê hy. “Maar ek moet myself herinner dat ek Gantane is en nie Siya nie.”
Vir dié akteur is kykers se woede nie noodwendig ’n aanval op hom nie, maar ’n teken dat hulle emosioneel in die storie belê het. Hy verstaan waarom hulle teleurgesteld is in Siya, ’n pastoor wat veronderstel is om ’n morele voorbeeld te wees, maar wie se eie besluite nou die mense naaste aan hom seermaak.
Om dié man geloofwaardig te vertolk, moet Kusch egter verstaan wat hom dryf, sonder om sy optrede te regverdig. Dit is ’n uitdaging wat nog interessanter is omdat sy eie grootwordjare hom ander lesse geleer het.
Kusch is deur drie sterk vroue, sy ma, ouma en oumagrootjie, grootgemaak. Hul invloed het ’n belangrike rol gespeel in sy begrip van respek, liefde en verantwoordelikheid.
“Hulle het my geleer om ander mense te respekteer, verantwoordelikheid te aanvaar en die mense in jou lewe te waardeer,” vertel hy.
Dit is juis dié waardes wat Siya se huidige gedrag so ver van Gantane se eie verwysingsraamwerk plaas. Tog moet hy as akteur verby sy persoonlike oordeel beweeg om die karakter se emosionele tekortkominge te verstaan.
“Die uitdaging is om sy menslikheid te wys sonder om sy optrede goed te praat,” sê hy.
Dié emosionele eerlikheid is ook noodsaaklik wanneer hy die egpaar se huwelikstonele saam met Biscombe aanpak. Volgens Kusch verg sulke tonele ’n besondere mate van vertroue tussen twee akteurs, omdat hulle mekaar emosioneel moet kan uitdaag en terselfdertyd fyn op mekaar moet reageer.
“Simone bring baie emosionele diepte na Bianca en dit gee my as akteur baie om op te reageer,” sê hy.
Vir hom gaan dit nie bloot daaroor om woede of konfrontasie uit te beeld nie. Die tonele moet ook die liefde, teleurstelling en hartseer onder die oppervlak blootlê.
“Soms lê die grootste seer juis in dit wat nie gesê word nie,” verduidelik hy.
Wanneer die kameras ophou rol, keer Kusch terug na sy eie wêreld van skryf, fotografie en musiek, kreatiewe uitlaatkleppe wat hom help om weer sy ewewig ná ’n intensiewe dag te vind.
En daar is ook ’n ligter kant aan die man agter die pastoor: Hy het in ’n stadium 37 paar tekkies besit, effens teenstrydig met die ernstige man wat kykers tans so graag kritiseer.
Siya se toekoms, en of sy huwelik met Bianca die verraad sal oorleef, moet ons nog sien. Maar vir Kusch bly die onderskeid tussen akteur en karakter juis nou noodsaaklik.
