‘Ek hoop dit hou nog lank’

Ivan van Rooyen.
Lions-breier, Ivan van Rooyen. Foto: Verskaf.

Ek en Ivan van Rooyen (IvR) het mekaar hier in Midstream leer ken. Wanneer hy nie naweke weg is vir wedstryde as Lions-afrigter nie, is hy by ons gemeente se eredienste. Ek het altyd gewonder hoe dit voel om ’n professionele rugbyspan af te rig, maar wat my geïnteresseer het, was sy toewyding. En ek wou weet oor hom. Oor Ivan. Cash, soos hy deur baie mense genoem word, skryf Gerrit Visser (GV).


GV: So, jy het in Skukuza grootgeword?

IvR: Onder meer.

GV: Onder meer?

IvR: My pa en ma het albei vir die bank gewerk vir omtrent 36, nee 38 jaar. Hy was ’n bankbestuurder, so ons het elke drie jaar getrek. Ek het begin in die Laerskool JJ van der Merwe in Ermelo, toe in st. 2 is ek na die Laerskool Witrivier – ek is nog oud genoeg om van standerds te kan praat. Aan die einde van my st. 2-jaar is my pa verplaas na die Wildtuin, wat beteken het dat ek van st. 3 tot 5 in die Wildtuin was. Ongelooflike voorreg, nie net die plek nie, maar ook die mense. Ons was maar 12 kinders in st. 5. Agt van die 12 het in meer as drie sporte provinsiale kleure gehad. As ’n groep was ons baie suksesvol. Ook nou. Jaco Ahlers speel vandag professionele gholf. Die ander was almal suksesvol tot vandag toe.

GV: Dit moes ’n belewenis wees om daar groot te word.

IvR: Kom ek vertel jou van ons eerste aand in die Wildtuin. Ons het die middag begin intrek. Ek was 10 jaar oud, en my jonger broer was 6 jaar oud. Ons het heel aand uitgepak, en toe, teen middernag ’n klop (Ivan klop met sy vingers op die houttafel in die padstal waar ons sit) aan die voordeur gehoor. Ons het geskrik, want almal sê as jy daar kom, moet jy jou hek toemaak. Niemand mag oop hekke hê nie. Dis toe die buurman wat homself voorstel en sê: “Klim in die kombi.” Hy het letterlik 300 meter om die hoek gery, waar daar toe ’n trop leeus in die pad lê. So, dít was ons eerste belewenis – ons was regtig in die Wildtuin.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos