Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-kragmeting tussen die Stormers en die Haaie beloof om ’n titaniese stryd te wees, met die Kaapse span se verdedigingsafrigter, Norman Laker, wat bevestig het dat hul Springbokke terugkeer na aksie.
Die Haaie het reeds hul nasionale spelers terugverwelkom, met verskeie van hulle wat uitgeblink het in hul oorwinning oor die verdedigende kampioene, Leinster, in die tweede ronde die afgelope naweek.
Die Stormers het egter net Siya Kolisi in hul beginspan gehad in die nederlaag teen Edinburgh, nadat John Dobson sy Suid-Afrikaanse spelers ná ’n veeleisende toetsseisoen ’n blaaskans gegee het.
“Al die Springbokke is terug,” het Laker Maandag aan verslaggewers gesê.
“Deon [Fourie] is terug, Damian [Willemse], Sacha [Feinberg-Mngomezulu], Cobus [Reinach], Wilco Louw en Zach Porthen. Almal is beskikbaar behalwe Cheslin [Kolbe], wat natuurlik beseer is.”
Laker weet wat Saterdag op die spel is wanneer die eerste derby van die seisoen plaasvind, en die Stormers sal ná hul nederlaag die afgelope naweek graag wil terugslaan.
“Dit is ’n Suid-Afrikaanse derby en dit is altyd fisiek,” het Laker gesê.
“Dit is amper soos ’n Springbokproef.
“Elke speler wil bewys dat hy ’n Bok kan wees, so ek sien uit na ’n geweldige wedstryd die naweek.”
Die Haaie, wat met 10 punte boaan die URC-punteleer is, lyk tans in onheilspellende vorm, en die terugkeer van hul Springbokke sal ’n groot hupstoot vir die Stormers wees in ’n tuiswedstryd wat hulle graag sal wil wen.
- Die afskop is Saterdag om 16:00, DHL Stadion, Kaapstad.
