Presies ’n jaar gelede het die Stormers vir Leinster 35-0 en Ospreys die daaropvolgende week 26-10 geklop. Daarteenoor het die Lions in hulle eerste twee wedstryde vasgeval, die Sharks een gewen en een gelykop gespeel en die Bulls albei hulle wedstryde oortuigend gewen.
Uiteindelik het die Stormers derde, die Bulls vierde en die Lions sewende op die vorige Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen se puntelys geëindig. Die Sharks moes met 10de plek gelukkig wees en was die enigste Suid-Afrikaanse span wat nie die uitkloprondes gehaal het nie.
Spring mens ’n jaar vorentoe na die hede, is dit daardie einste Sharks wat nou na twee rondes in die nuwe seisoen boaan die puntelys sit. Ja, die spanne se volgorde het nou omgedop sodat die Lions derde, Bulls sewende en Stormers agtste op die puntelys is.
Die Lions het hul eerste twee wedstryde by Ellispark in Johannesburg gewen deur eers Leinster 27-26 en toe die Ospreys 35-19 te klop.
Die Sharks was ook aan die wenkant van dié spanne en het die Ospreys 41-24 en Leinster 26-20 oorrompel.
Hoewel die Stormers vir Connacht in Ierland met 29-15 kon baasraak, het Edinburgh in Skotland met ’n telling van 17-13 met die louere weggestap.
Die Bulls se oortuigende 47-13-oorwinning oor Zebre Parma is egter in die wiele gery toe hulle 26-22 teen Munster vasgeval het.
Nou lê die Jukskei-derby voor wanneer die Lions volgende naweek op Loftus Versfeld die Bulls die stryd aansê, terwyl die klubs van die kuste, die Stormers en die Sharks, in Kaapstad kragte meet.
