Nuweling-losskakel blink uit vir Munster wat Bulls in Limerick klop

Die Bulls-afrigter, Johan Ackermann.
Die Bulls-afrigter, Johan Ackermann. Foto: Ramsey Cardy/Gallo Images.

Munster het die Bulls Saterdagaand met 26-22 in hul tweede ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) geklop.

Dit was ’n frustrerende aand vir die besoekers, met ongedwonge foute en swak besluitneming wat hulle nie gehelp het nie.

Munster het sterk begin en die eerste vyf minute in die Bulls se 22-metergebied deurgebring terwyl hulle na die openingspunte gesoek het.

Die Bulls het egter goed verdedig, Munster uitgehou en uiteindelik balbesit teruggekry ná ’n hanteerfout deur die tuisspan, wat hulle in staat gestel het om die druk te verlig.

Die Bulls het nie dieselfde fout gemaak nie en met hul eerste besoek aan Munster se rooigebied ’n voorsprong van 7-0 geneem toe slot Ruan Vermaak in die 15de minuut ’n drie gedruk het wat verdoel is.

Munster het hul volgende geleentheid ten volle benut en op briljante wyse punte aangeteken toe ’n dwarsskop tydens ’n strafskopvoordeel die vleuel Diarmuid Kilgallen gevind het, wat die bal uit die lug gepluk en oord die doellyn gaan druk het.

Charlie O’Shea het vanaf die regterkantlyn verdoel om die telling in die 20ste minuut op 7-7 gelyk te trek.

Die wedstryd het teen ’n hoë tempo voortgeduur, met albei spanne wat bereid was om die bal wyd te speel wanneer die geleentheid hom voordoen. Die Bulls was ook doeltreffend by die afbreekpunte, waar Jeandré Rudolph uitgestaan het deur twee strafskoppe vir die besoekers te wen.

Munster het egter die druk volgehou en ná 25 minute 64% van die balbesit geniet.

Hulle het hul voorsprong in die 31ste minuut vergroot toe O’Shea ’n skop van Curwin Bosch afgestorm het en die Bulls se dekverdediging na die bal geklop het wat pas oor die doellyn gerol het.

Hy het sy eie drie verdoel om Munster met 14-7 voor te sit.

Die Bulls het net voor rustyd teruggeslaan nadat hulle nét kort van die doellyn gestuit is ná goeie handewerk deur die agterlyn. Stut Francois Klopper het egter die bal opgeraap en van naby gaan druk, waarna Bosch verdoel het om die spanne met 14-14 rustyd toe te stuur.

Die Bulls het vroeg in die tweede helfte die dooiepunt verbreek danksy ’n strafskop deur Bosch om ’n voorsprong van 17-14 te neem.

Munster het egter weer die voortou geneem en dit was hul jong losskakel O’Shea, wat die wedstryd van sy lewe gespeel het, wat sy tweede drie van die aand gedruk het. Hy het die bal aan die blinde kant geneem, swak Bulls-verdediging uitgebuit en Munster in die 56ste minuut met 19-17 laat voorloop.

Munster het die druk op die Bulls volgehou, terwyl swak besluitneming en verdere hanteerfoute die besoekers se spel begin kniehalter het.

Een van dié foute in hul eie 22-metergebied het aan Munster ’n aanvallende skrum besorg, waarna plaasvervanger Alex Kendellen gaan druk het. Craig Casey het verdoel om die voorsprong na 26-17 te rek, wat beteken het die Bulls sou in die laaste 10 minute twee keer moes gaan druk om die wedstryd te wen.

Hulle het hulself egter nog ’n kans gegee toe Rudolph sewe minute voor die einde in die regterhoek gaan druk het nadat hy uitstekende spoed aan die buitekant getoon het.

Bosch kon nie die drie verdoel nie, wat Munster met ’n voorsprong van 26-22 gelaat het. Die Bulls het in die laaste paar minute heelwat balbesit gehad, maar Munster se verdediging het gehou om die oorwinning te beklink.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos