Die Lions het die eerste twee wedstryde in die nuwe seisoen van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) gewen nadat hulle Ospreys Saterdag met 35-19 geklop het.
Die bonuspuntoorwinning is gebou op ’n oorheersende skrumvertoning, asook ’n doeltreffende rolmaal wat die Walliese span eenvoudig nie kon stuit nie.
Die oorwinning kon selfs groter gewees het, maar die losskakel Chris Smith het ’n afdag met die skopskoen beleef.
Die Lions se skrum was van die begin af dominant en het verskeie strafskoppe vir die Johannesburgers afgedwing. Smith het die tuisspan in die 11de minuut met 3-0 laat voorloop toe hy ’n strafskop reg voor die pale oorgeskop het.
Dit het tot die 28ste minuut geneem voordat die Lions hul eerste drie gedruk het, maar die wagtyd was die moeite werd.
Die vleuel Erich Cronjé het sy derde drie van die seisoen aangeteken, nadat kaptein Francke Horn briljante werk verrig het deur ná ’n duikslag die bal uit die duikslag los te gee om ruimte vir die drie te skep.
Smith het die doelskop oorgeskop en die Lions met 10-0 laat voorloop.
Ospreys het vyf minute later teruggeslaan nadat hulle balbesit diep binne die Lions se gebied gewen het.
Dit het gelei tot ’n drie deur die senter Keiran Williams nadat sy middelveldmaat, Evardi Boshoff, die Lions se verdediging oopgeskeur het. Dan Edwards het die doelskop oorgeskop om die agterstand tot 10-7 te verklein.
Ospreys het die eerste helfte sterk afgesluit en die meeste van die tyd in die Lions se rooigebied deurgebring. Dit het ná die sirene vrugte afgewerp toe ’n doeltreffende rolmaal, waarin die agterspelers ook aangesluit het, vir Efan Daniel ’n onverdoelde drie besorg het om die besoekers teen rustyd met 12-10 te laat voorloop.
Die tuisspan het die tweede helfte perfek begin. Nadat hulle uit ’n strafskop ’n aanvallende lynstaan opgestel het, het die Lions met ’n rolmaal van hul eie gaan druk toe die Ospreys magteloos was om PJ Botha te keer.
Hoewel die drie nie verdoel is nie, het die Lions in die 43ste minuut met 15-12 voorgeloop.
Verdere drieë deur Morné Brandon, Boeta Chamberlain en Kelly Mpeku (twee) het gevolg namate die Lions die res van die wedstryd oorheers het.
Ospreys het daarin geslaag om op die eindfluitjie nog punte aan te teken toe Ross Moriarty gaan druk het.
