Toe RSG-ikoon Magdaleen Krüger besluit het om ná sewe jaar agter die Loof die Here-mikrofoon uit te skuif om finaal af te tree, het luisteraars twee vrae gehad: Wie gaan by haar die leisels van dié gewilde program oorneem en gaan dit ook ’n kundige musiekliefhebber wees?
Die antwoorde hierop is nou beantwoord deur die aankondiging dat Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies)-onderwyser en -koormeester AJ Maree die nuwe aanbieder is.
Hy sal vanaf Sondag, 1 November, agter die mikroon inskuif om met sy unieke persoonlikheid ’n gunsteling-program sy eie te maak.
“Om by RSG en spesifiek hierdie program aan te sluit, is vir my ’n besondere voorreg, maar ook ’n groot verantwoordelikheid,” sê AJ.
“Loof die Here het ’n ryke geskiedenis en is ’n program waarmee baie mense oor dekades heen grootgeword het.”
Maree het ’n graad in aktuariële wiskunde voltooi en is tans ’n wiskunde-onderwyser en koordirigent by Affies.
Hy is ook ’n gereelde spreker by koorseminare en onderrig-kongresse en koor- en klassieke musiek vorm ’n kardinale deel van sy liefde vir musiek.

Gedurende Oktober sal ’n keur van Loof die Here-hoogtepunte uitgesaai word, totdat Maree in November sy plek agter die mikrofoon inneem.
“Vir talle luisteraars het dit deel geword van die ritme van ’n Sondagoggend. Ek het groot respek vir die nalatenskap van die program en die mense wat dit oor die jare gevorm het,” sê Maree.
“Luisteraars kan steeds uitsien na ’n uur van lofsang, rustigheid, besinning en inspirasie waarvoor hul harte warm klop, en ek sal my eie melodie hieraan toevoeg.”
Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, glo dat Loof die Here veel meer as net ’n radioprogram is, en daadwerklik ’n “geliefde deel van hul Sondagoggend” geword het.
“Ons is opreg dankbaar vir die merkwaardige bydrae wat Magdaleen Krüger oor die afgelope sewe jaar gelewer het en wens haar alles van die beste toe,” verduidelik Jooste.
“Terselfdertyd verwelkom ons vir AJ Maree met groot opgewondenheid! Sy liefde vir musiek, sy warmte as mens en sy diep waardering vir die program se nalatenskap, maak hom die ideale persoon om hierdie geliefde instelling se volgende hoofstuk saam met ons luisteraars aan te pak.”
Intussen sien Maree uit om so geliefde program tydens ’n nuwe fase te bestuur.
“Uiteindelik hoop ek dat elke Sondagoggend iets sal bied wat die hart aanraak, ’n ruimte waarin mense kan stil word, asemhaal en iets van hoop en verwondering kan ervaar,” sê hy.
