Daar is net één Suid-Afrika.
Net een wêreld.
Een “Ons”.
Laat ons dit nie vermors met voortdurende getwis, verdeeldheid en mekaar afbreek nie.
Ons mag verskil, kwaad word vir die regering en selfs vir mekaar.
Maar ons het altyd ’n keuse: om deur omstandighede gevange gehou te word; bitter, verbitterd en wraaksugtig te bly; te haat, te blameer en te verwyt. Of ons kan ons verskille omhels, die krag daarin vind en saam oplossings soek, uitdagings aanpak en moeilike tye deurstaan.
Eenheid is ons krag. Dit is presies wat Rassie en die Springbokspan so suksesvol doen.
’n Mens hoef egter nie in die ruimte te wees om beter perspektief te kry nie.
Slegs ’n Saterdag ná ’n Springbok-rugbywedstryd in Soweto en selfs Baltimore in die VSA doen dieselfde, waar vreemdelinge – swart, bruin en wit – vir ’n paar uur saam verkeer en “ons” span trots toejuig.
Op daardie oomblik verdwyn alle grense van verskille, verdeeldheid, persepsies en probleme en maak dit minder saak.
Ek’t mense van reg oor die wêreld in Baltimore hoor sê: “Rugby in Suid-Afrika verenig almal.”
As hulle dit raaksien, hoekom is ons so blind daarvoor?
Maar dan moet ons bestendig bly.
Eenheid kan nie slegs iets wees wat almal op ’n Saterdag tydens ’n Springbokwedstryd najaag en dan ’n paar dae later aan die wêreld ’n ander storie verkoop dat swart Suid-Afrikaners wit mense vervolg, etnies uitmoor en dat ons nie saam in een land kan leef nie.
Daar kan nie duisende kruise in Amerika geplant word om juis daardie narratief aan die wêreld te verkoop nie.
Twee narratiewe kan nie gedien word nie.
- Marianne Barnard, Umhlanga Ridge
Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:
Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.
