Aiden Markram is terug in die Proteas-span nadat persoonlike omstandighede hom die afgelope paar maande uit internasionale krieket gehou het.
Markram is terug in die Proteas-groep, maar hierdie keer nie as kaptein nie. Die voormalige kaptein maak sy terugkeer onder Temba Bavuma, nadat persoonlike omstandighede hom vir maande uit internasionale krieket gehou het.
Markram, wat die IPL en The Hundred vroeg verlaat het, het intussen sy voorbereiding by die Titans en in die nette van Tuks voortgesit.
Hy erken egter dat niks wedstrydtyd kan vervang nie en dat hy eers weer sy ritme sal moet vind wanneer Suid-Afrika Sondag Australië by die Wanderers pak.
“Daar is geen voorbereiding soos wedstrydpraktyk nie. Ek besef ek het lanklaas ’n krieketwedstryd gespeel,” het Markram gesê.
Volgens die veelsydige speler lyk sake by die huis nou beter, wat hom in staat gestel het om na die Proteas terug te keer.
Markram se laaste internasionale verskyning was in Suid-Afrika se T20-Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Maart.
Sy terugkeer kom op ’n belangrike tydstip vir die Proteas, met die 2027-Wêreldbeker reeds op die horison.
Vir die 31-jarige is die fokus nou eenvoudig: om weer wedstrydritme te kry en sy plek in die span te hervestig.
Die wedstryd by die Wanderers-stadion begin om 10:00.
