Beseringslag vir Wallabies voor kragmeting teen Bokke

André Esterhuizen.
South Africa’s centre Andre Esterhuizen (L) jumps as he is tackled by Australia’s fullback Andrew Kellaway (R) during the Rugby Championship first round Test match between South Africa and Australia at Ellis Park Stadium in Johannesburg on August 16, 2025. (Photo by Phill Magakoe / AFP)

Die Wallabies het ’n beseringsknou gekry voor Sondag se eenmalige toets teen die wêreldkampioen, Suid-Afrika, in Perth.

Die slot Josh Canham is weens ’n ligte dyspierbesering uit die wedstryd onttrek nadat hy ná Vrydag se oefensessie seer gevoel het. Lukhan Salakaia-Loto neem sy plek in die beginspan in, terwyl Lachlan Shaw by die plaasvervangers gevoeg is.

“Dit is altyd ’n groot verlies wanneer jy jou lynstaanaanvoerder verloor. Canham het baie goeie rugby gespeel,” het Harry Wilson, Wallabies-kaptein, Saterdag aan verslaggewers gesê.

Canham se onttrekking is ’n terugslag vir Australië se poging om sy onoorwonne rekord onder die nuwe afrigter Les Kiss voort te sit.

Hoewel Canham se vermoë in die lug moeilik vervang sal word, behoort die groter Salakaia-Loto die fisieke uitdaging van die Springbokke te kan hanteer.

“Iemand soos Lukhan wat by die beginspan aansluit, gaan baie opgewonde wees en hy sal gereed wees om te speel,” het Wilson gesê.

“Ons weet Suid-Afrika is ’n span wat deur ons wil kom en hulle het ’n groot, fisieke voorspelersgroep. Om iemand soos Lukhan langs jou te hê, gee jou daardie ekstra vertroue. Hy geniet daardie gevegte.”

Die Wallabies hoop om Suid-Afrika, wat tans wêreldnommer een is, hul grootste oorwinning onder Kiss toe te dien. Die Bokke het 13 veranderinge aan hul span aangebring ná hul vorige toets teen Nieu-Seeland vroeër vandeesmaand.

Sedert Kiss in Julie by Joe Schmidt oorgeneem het, het Australië Japan twee keer agtereenvolgens geklop voordat die span vir die eerste keer ’n reeksoorwinning in Argentinië behaal het.

“Ons weet watter span hulle gaan wees,” het Wilson oor Suid-Afrika gesê. “Ons het hulle baie fyn dopgehou en hulle het ongelooflike toetsrugby teen die All Blacks gespeel.

“Daar is ’n paar veranderinge, maar hulle het steeds 10 Wêreldbeker-wenners, so ons sien baie daarna uit.”

Suid-Afrika het vyf van sy laaste ses toetse teen Australië gewen, insluitend ’n oortuigende 30-12-oorwinning by Perth se Optus-stadion in 2024.

Die wedstryd begin Sondag om 11:45 Suid-Afrikaanse tyd.

Gewysigde Wallabies-span:

15 Tom Wright; 14 Max Jorgensen; 13 Len Ikitau; 12 Hunter Paisami; 11 Joseph-Aukuso Suaalii; 10 Ben Donaldson; 9 Ryan Lonergan; 8 Harry Wilson (kaptein); 7 Fraser McReight; 6 Rob Valetini; 5 Jeremy Williams; 4 Lukhan Salakaia-Loto; 3 Allan Alaalatoa; 2 Brandon Paenga-Amosa; 1 Angus Bell.

Plaasvervangers: 16 Billy Pollard, 17 Aidan Ross, 18 Taniela Tupou, 19 Lachlan Shaw, 20 Tom Hooper, 21 Carlo Tizzano, 22 Tate McDermott, 23 Harry Potter.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos