Ekurhuleni-moorde: 3 in hegtenis ná Dawn Park-moord

Polisie.
Foto ter illustrasie: Pexels.

Drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op Jabulile Ntimba in Dawn Park, Boksburg.

Die Gautengse provinsiale regering het die arrestasies verwelkom en dit as ’n deurbraak in die ondersoek beskryf.

Volgens ’n verklaring wat deur die Gautengse regering uitgereik is, volg die arrestasies ná intensiewe ondersoekwerk deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS).

Premier Panyaza Lesufi het die ondersoekspan se vordering verwelkom en sy medelye aan Ntimba se familie en geliefdes betuig.

“Ons verwelkom die vordering wat die ondersoekspan gemaak het,” het Lesufi volgens die verklaring gesê.

Die Gautengse regering sê die provinsie ondersteun ook voortgesette wetstoepassingsoperasies, insluitend Operasie Shanela en Lockdown-operasies, veral in Kempton Park en ander dele van Ekurhuleni.

Die operasies fokus volgens die regering op die bekamping van misdaad, die inhegtenisneming van gesoekte verdagtes en die verbetering van veiligheid in gemeenskappe wat deur ernstige en geweldsmisdaad geraak word.

Wetstoepassingsagentskappe voer onder meer geteikende operasies, padblokkades, stop-en-deursoekaksies en nakomingsinspeksies uit, in samewerking met munisipaliteite en ander rolspelers.

Die provinsiale regering sê hy sal voortgaan om die operasies te ondersteun en samewerking tussen die SAPS, Gautengse verkeerspolisie, munisipaliteite en ander wetstoepassingsagentskappe te versterk.

Lesufi het gemeenskappe ook aangemoedig om met wetstoepassers saam te werk en inligting te verskaf wat ondersoeke kan help.

Die drie verdagtes se identiteite en die presiese aanklagte teen hulle is nie in die verklaring genoem nie, maar hulle sal wel na verwagting vandag in die Boksburg-landdroshof verskyn.

Die identiteit van die lyke wat reeds in die area gevind het is as volg:

  • Busisiwe Mahlangu gevind in Kempton Park op 15 Julie 2026
  • Itumeleng Kekana gevind in Kempton Park op 3 Augustus 2026
  • Nomfesane Mjobo gevind in Kempton Park op 26 Augustus 2026
  • Onbekende liggaam gevind naby Clayville-rivier in Olifantsfontein op 7 September 2026
  • Gracious Nkomo gevind in Kempton Park op 10 September 2026
  • Elizabeth Moselakgomo gevind in Kempton park op 12 September 2026
  • Naam word teruggehou tot haar familie in kennis gestel is; gevind in Olifantsfontein op 14 September 2026
  • Dineo Motapane gevind in Kwa-Thema op 15 September 2026
  • Jabulile Ntimba gevind in Dawn park op 17 September 2026


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos