Hilton Maasdorp (58)
Hilton Maasdorp (58)

DA-koukusleier Hilton Maasdorp skielik oorlede


Hilton Maasdorp (58), DA-koukusleier in Dihlabeng en DA-wyksraadslid vir Wyk 9 in Bethlehem, is op Vrydag 14 Augustus aan ‘n hartaanval oorlede.

Esti Senekal, DA-raadslid, het die nuus op sosiale media bekend gemaak.

Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, het Maasdorp as ‘n “politieke reus” beskryf. “Ons gedagtes en gebede is by sy familie, vriende en kollegas in hierdie moeilike tyd, asook by almal wat hom geken het en wat hierdie hartseer nuus moet verwerk,” het Jankielsohn gesê.

Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem het medelye met Maasdorp se familie betuig. “Die Voortrekker-gemeenskap betuig ons innige meegevoel aan die familie van mnr. Hilton Maasdorp, Wyk 9-wyksraadslid en voormalige ouer van Voortrekker,” het die skool in ‘n boodskap op Facebook gesê.

Maasdorp, wat in Bloemfontein gebore is en in Bakenpark, Bethlehem, gewoon het, was van 2011 tot 2026 by die politiek betrokke. Hy was ‘n diabeet en rolstoelgebonde nadat beide sy bene bo die knieë geamputeer is.

Maasdorp was ‘n wewenaar nadat sy vrou, Jennifer, op 24 April 2021 oorlede is.

Maasdorp word deur sy drie kinders Marlin (32), Hildo-nay (29) en Shinaaz Maasdorp (25) asook sy ma Doreen Marais (81) en ander familie oorleef.

Maasdorp se amptelike begrafnis vind op Saterdag 22 Augustus in Bethlehem plaas. Die tyd en plek sal later die week bekend gemaak word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article