Weskussers wat hou van kuier sal ‘n daadwerklike poging moet aanwend om seker te maak die drank wat hulle by kroeë en klubs koop nie vervals is nie. Daarby sal die eienaars of aankopers van die kuierplekke moet seker maak dat hulle nie nagemaakte drank aankoop nie – al is die prys ook hoe goedkoop.
Dr. Shamal Vinesh Ramesar, navorsingshoof by die Drankfederasie van Suid-Afrika (DF-SA), doen ‘n beroep op inwoners om saam te werk om die toename in vervalsde alkohol hok te slaan. Byna een uit elke vyf drankies wat in Suid-Afrika verkoop word, is deesdae onwettig of nagemaak.
Ramesar meen onwettige alkohol is ‘n bekommernis vir die drankbedryf en vir openbare gesondheid. Navorsing wat Euromonitor International in opdrag van die DF-SA uitgevoer het, toon ‘n toename in die onwettige drankmark. Sedert 2017 het die volume onwettige alkohol met ‘n verstommende 55% gegroei en 773 000 hektoliter absolute alkohol-ekwivalent (HL LAE) in 2024 bereik.
Die onwettige mark het nou ‘n geraamde waarde van R25,1 miljard teenoor R20,5 miljard in 2020. Volgens Ramesar het onwettige alkohol in 2024 na raming R16,5 miljard in BTW en aksynsbelasting ontduik.
Die Vredenburg-polisie het in Julie onwettige drank ter waarde van R5 000 gekonfiskeer.
Kenmerke
Vervalste alkohol is onbelas, ongereguleer, ongetoets en onveilig.
“Hierdie produkte het dikwels nie gesondheidswaarskuwings nie, basiese veiligheidsstandaarde is geïgnoreer en dit word vervaardig in fasiliteite wat tekort skiet aan voldoenings- en higiëne-norme. In sommige gevalle bevat hulle gevaarlike vlakke van etanol of giftige bymiddels soos metanol, wat ernstige risiko’s vir verbruikers inhou,” sê Ramesar.
Dié chemikalieë het ‘n skerp reuk en Ramesar benadruk dat dit gesondheidsrisiko’s inhou, soos onomkeerbare blindheid, senuweeskade, respiratoriese versaking, hartversaking en metaboliese asidose wat lei tot veelvuldige orgaanversaking en die dood.
Uit ‘n onlangse opname van 707 Suid-Afrikaners was 83% bekommerd oor die gesondheidsrisiko’s van onwettige alkohol, 49% ken iemand wat daardeur benadeel is en 29% ken iemand wat daaraan gesterf het.
Klante kla gewoonlik dat hulle siek voel of “oormatig” dronk, want selfs klein hoeveelhede metanol kan ‘n sterk effek hê.
Ramesar verduidelik dat die wettige alkoholbedryf binne ‘n gereguleerde raamwerk funksioneer wat produkveiligheid, gehalteversekering en voldoening aan nasionale standaarde prioritiseer.
“Wettige produsente is onderhewig aan toesig en beheermaatreëls wat naspeurbaarheid, toetsing en die insluiting van toepaslike gesondheidswaarskuwings en verantwoordelike verbruiksboodskappe verseker.”
Kenmerke van vervalste drank:
• Prys – Dit is aansienlik goedkoper as wettige drank. Groot afslag kan dui op gesteelde, nagemaakte of vervalste voorraad.
• Bottelseël – Die seël is gebreek of maak nie ‘n kraakgeluid wanneer dit oopgemaak word nie.
• Vullyn – Wettige bottels sal almal in ‘n ry dieselfde vullyn hê.
• Kleur en smaak – Vervalste alkohol smaak en lyk nie soos wettige alkohol-handelsmerke nie en veral wit spiritualieë word nageboots omdat dit makliker is.
• Deeltjies wat in die vloeistof dryf – Net vervalste drank sal fyn deeltjies hê wat dryf.
• Etiketposisionering, lettertipes op die etiket – Dit sal verskil van wettige bottels met verbleikte etikette, spelfoute of inkonsekwente handelsmerke.
• Gewig van die bottel – Bottels met vervalste drank word van substandaard glas gemaak, wat minder weeg.
• Geen bondelnommer, strepieskode of produksiedatum nie, want dit maak dit moeiliker om na te speur en te herroep.
Maak seker oor verskaffer
Ramesar stel voor dat kroegeienaars vasstel of hul verskaffer ‘n geldige drankverspreidingslisensie het. Hulle moet ook ‘n amptelike maatskappyregistrasie, BTW-nommer of dokumentasie hê én as ‘n gemagtigde verspreider by handelsmerkeienaars gelys wees. Drankvervalsers werk informeel, sonder ‘n sakeadres en hulle vermy terreinbesoeke. Vervalsers dring ook aan op alleenlik kontant of buite-die-boek-transaksies en weier formele banktransaksies, kwitansies of belastingfakture.
Daar word ook nie aksynsbelasting by pryse ingesluit nie.
Vervalsers lewer gewoonlik in ongemerkte afleweringsvoertuie af.
Ramesar sê daar kan op enige onderneming wat bewustelik aanhou om vervalste drank te verkoop, se bates beslag gelê word.
Die DF-SA gaan bewusmakingsveldtog van stapel stuur oor die identifisering van onwettige alkohol.




