Ndodomzi Ntswabana (42) by sy twee seuns, Johnlin Seshwai (9) en Junior Seshwai (6). Al drie is in die brand dood.
Ndodomzi Ntswabana (42) by sy twee seuns, Johnlin Seshwai (9) en Junior Seshwai (6). Al drie is in die brand dood.

Die Tulbagh-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ‘n 42-jarige man en sy twee seuns Woensdagoggend (5 November) in ‘n strukturele brand in Gouda dood is.

Die seuns is onderskeidelik ses en nege jaar oud.

Volgens kapt. Frederick van Wyk, ‘n provinsiale polisie- woordvoerder, is die hut waarin die gesin in 3de Laan gewoon het, omstreeks 05:10 in vlamme omhul.

“Verskeie nooddienste is na die toneel ontbied. Nadat die brand geblus is, is die liggame van drie mense – onderskeidelik 6, 9 en 42 jaar oud – gevind,” het Van Wyk gesê.

“Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek en die oorsaak van die brand moet nog bepaal word.”

'n Gesin se hut in Gouda het tot op die grond afgebrand.
‘n Gesin se hut in Gouda het tot op die grond afgebrand.

Die 42-jarige Ndodomzi Ntswabana se niggie, Amanda Simayile, het by navraag aan Paarl Post gesê die familie is almal in skok oor die gebeure.

“Hy is my neef, maar ons was eintlik soos broer en suster, want my ma het hom grootgemaak – van kleins af.”

Sy het die twee seuntjies as Johnlin Seshwai (9) en Junior Seshwai (6) geïdentifiseer.

Simayile sê dit is in hierdie stadium onduidelik wat die brand veroorsaak het.

Volgens haar het die twee seuntjies saam met hul pa en stiefma gewoon.

Ndodomzi Ntswabana (42) by sy twee seuns, Johnlin Seshwai (9) en Junior Seshwai (6). Al drie is in die brand dood.
Ndodomzi Ntswabana (42) by sy twee seuns, Johnlin Seshwai (9) en Junior Seshwai (6). Al drie is in die brand dood.

Die stiefma, wat swanger is, het glo Dinsdagaand (4 November) in kraam gegaan en is in die hospitaal opgeneem.

Die kinders se ma woon volgens Simayile by haar ma (hul ouma).

“Hul ma is baie stukkend. Die stiefma is steeds by die hospitaal,” vertel Simayile.

• Die polisie versoek dat enigiemand met inligting oor die voorval speursers. Manuel by 079 894 0192 bel, die Stop Misdaad-nommer 08600 10111 skakel of ‘n anonieme wenk op die MySAPS-toepassing indien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article