Die Laer Meisieskool Oranje is aangewys as die beste junior koor in Suid-Afrika.
Die skool se junior koor het in die gesogte ATKV-Applous-skoolkoorkompetisie se finale ronde van 29 Julie tot 1 Augustus nie net die nasionale titel in die juniorkoor-afdeling gewen nie. Die koor was ook die enigste laerskool uit die Vrystaat wat onder die 10 top juniorkore in die land geïndig het.
Vanjaar het ‘n indrukwekkende 314 laer- en hoërskoolkore van oor Suid-Afrika heen aan die ATKV-Applous-streeksfeeste deelgeneem. Onder hierdie kore was daar ‘n rekordgetal van 63 juniorkore, wat die toenemende gewildheid en uitstekende standaard van koorsang onder jong leerders beklemtoon.

Die ATKV-Applous-kompetisie bied junior kore, bestaande uit leerders tussen ongeveer ses en agt jaar oud, die geleentheid om hul talent op nasionale vlak te toon. Kore word volgens streng kriteria beoordeel, waaronder sanggehalte, musikaliteit, verhoogaanbieding en die uitvoering van die voorgeskrewe repertorium.
Hierdie uitsonderlike prestasie getuig van die talent, harde werk en toewyding van elke lid van die Juniorkoor, asook die bekwame leiding en inspirasie van die koor se afrigters.
Werner Stander is die dirigent van die wenkoor en Maretha Steyn is die begeleier.
“Ons is ongelooflik trots op elke meisie wat aan hierdie sukses bygedra het. Julle het nie net Oranje en die Vrystaat met onderskeiding verteenwoordig nie, maar ook bewys dat Oranje se jong sangers met die beste kore in Suid-Afrika kan meeding. Hierdie prestasie is ‘n inspirasie vir die hele skoolgemeenskap,” sê Stander.







You must be logged in to post a comment.