Bram Fishcer-gebou
Die Bram Fischer-gebou of glaspaleis is die tuiste van die Mangaung-metro se administratiewe kantore. FOTO: Lientjie Mentz

Opposisie bekommerd oor ‘blanko tjek’ vir Mangaung-ontwikkeling

,
Bram Fishcer-gebou
Die Bram Fischer-gebou of glaspaleis is die tuiste van die Mangaung-metro se administratiewe kantore. FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – Hoewel opposisiepartye ten gunste van ontwikkeling is, is hulle bekommerd oor die “blanko tjek” wat deur ‘n meerderheidstem van die ANC afgedwing is op die vervreemding van munisipale eiendom.

DA-raadslid Lyle Bouer het tydens die raadsvergadering Donderdag 30 Julie gesê dié party ondersteun ontwikkeling, maar dit mag nie ten koste van swak of geen verbetering van die stad se infrastruktuur wees nie.

Ook die VF Plus het tydens die vergadering teen die voorstel gestem om strategiese munisipale grond te verkoop, omdat die munisipaliteit nie eens ’n behoorlike verslag met die nodige besonderhede aan die raad kon voorlê nie.

LEES OOK: Skikking keer voorlopig vervreemding van Naval Hill, Tempe-lughawe.

Die verslag wat wel voorgelê is, stel voor dat munisipale grond in onder meer Hamilton, Ceciliapark, Kwaggafontein, Estoire en by die Tempe-lughawe vir ontwikkeling en moontlike verkoop oorweeg word, maar verskaf geen besonderhede oor watter soort ontwikkeling op watter terrein beplan word nie, behalwe by Tempe.

In die verslag waaroor raadlede moes stem, word slegs 12 eiendomme genoem terwyl ander eiendomme soos Naval Hill in ‘n vorige kennisgewing deur die metro ook ter sprake was.

In die vergadering het Gregory Nthatisi, die metro se uitvoerende burgemeester, gesê die metro beskik oor baie eiendom wat geen bydra tot die metro se koffers lewer nie. “Kyk na die restaurant op Naval Hill. Dit is ‘n dinosourus. Dit bring net af en toe bietjie geld in wanneer dit vir ‘n geselligheid verhuur word.”

Hoewel die verslag verwys na moontlike nywerheidsprojekte, logistieke sentrums, residensiële ontwikkeling, toerisme, lugvaartverwante projekte en hernubare energie, word nêrens aangedui watter ontwikkeling vir watter spesifieke eiendom beoog word nie.

Die VF Plus steun ekonomiese ontwikkeling, maar nie wanneer raadslede gevra word om goedkeuring te gee sonder die nodige feite nie.

Elke ontwikkeling het ’n impak op sy omgewing. Dit kan bestaande woongebiede, verkeersvloei, munisipale infrastruktuur, die omgewing en selfs erfenisgebiede beïnvloed.

Dit is die raad en die munisipaliteit se verantwoordelikheid om seker te maak dat ontwikkelingsplanne tot voordeel van inwoners en ekonomiese groei is.

Elizabeth Snyman-Van Deventer het in die vergadering gesê die VF Plus waarsku dat openbare deelname betekenisloos raak indien inwoners nie vooraf weet wat in hul woonbuurte beplan word nie.

“Die VF Plus het daarom gevra dat die munisipaliteit na die raad terugkeer met ’n volledige eiendom-vir-eiendom verslag wat die beoogde grondgebruik, omgewings- en finansiële implikasies behoorlik uiteensit.”

Sy sê die ANC se geskiedenis van swak bestuur en ondeurdagte besluite is presies waarom die VF Plus nie ’n blanko tjek sal teken nie.

“Openbare grond behoort aan die inwoners van Mangaung. Inwoners het die reg om te weet wat verkoop word, aan wie, waarvoor en hoe dit hulle gaan raak.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article