Met minder as ‘n week tot die 4 November- plaaslike verkiesing, is baie mense se vraag: Vir wie moet ek stem?
Dr. Harlan Cloete, ‘n kenner van plaaslike regering en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en skrywer van 101 Local Governance Lessons: from the Great Governance ZA Podcast, sê die probleem is nie wat gebeur tydens ‘n plaaslike verkiesing nie. “Dit gaan alles oor wat gebeur tussen plaaslike verkiesings.
“Kiesers is teleurgesteld in plaaslike regering. Veral jongmense voel hul stem sal nie ‘n verskil maak nie,” sê Cloete.
Hy verduidelik munisipale regerings is soos ‘n driepoot-potjie – drie interafhanklike dele: politieke leierskap, administrasie en die gemeenskap. “Die politici bepaal die beleid en die begroting. Die administrasie skakel besluite wat deur die raad geneem word om in planne, programme en dienste. Die gemeenskap moet bydrae maak tot beleid en die munisipaliteit verantwoordbaar hou.”
Wanneer hierdie drie dele in balans is, het jy teoreties gesproke ‘n perfekte munisipaliteit. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie en word ‘n wanbalans veroorsaak deur politiekery wat dikwels hoogty vier.
“Die gemeenskap van Mangaung sit met ‘n ‘sampioen-regering’. Hulle voer ons mis – die gemeenskap word grootliks in die duister gehou oor wat gedoen word,” sê Cloete.
Die bewering word versterk deur die ANC-regerende munisipale raad wat September se raadsvergadering gekanselleer het, terwyl die enigste punt wat op Dinsdag 27 Oktober se agenda in die raad gedien het, dat ‘n reses aangekondig is in aanloop tot die verkiesing.
Hardie Viviers, DA-raadslid sê dit beteken verskeie verslae oor die eerste kwartaal van die geldjaar wat op 1 Julie begin het, het nie voor die raad gedien nie.
ALSO READ: Voters given unprecedented access to voting results.
“Volgens wetgewing moet die verslae voor die raad dien en goedgekeur word. Daar kan uitstel gegee word deur aansoek te doen by die LUR van finansies en Nasionale Tesourie, maar dit is nie gedoen nie. Dit beteken dat die administrasie geen verslag gelewer het oor hoe die afgelope drie maande se geld bestuur is nie. Omdat hierdie verslae nie gedien het nie, is daar by die DA nou groot kommer oor Desember 2026 se staatstoelae.”
Die Mangaung-metro het 101 setels wat bestaan uit 51 wyksraadslede waarvoor kiesers op die eerste stembrief stem en die res is proporsionele stemme vir partye op die tweede stembrief.






