Dr. Coné Mulder, leier van die VF Plus Vrydag 2 Oktober in Bloemfontein.
Dr. Coné Mulder, leier van die VF Plus Vrydag 2 Oktober in Bloemfontein. FOTO: Lientjie Mentz

VF Plus-leier moedig mense in Bloem aan om te stem vir goeie waardes

Dr. Coné Mulder, leier van die VF Plus Vrydag 2 Oktober in Bloemfontein.
Dr. Coné Mulder, leier van die VF Plus Vrydag 2 Oktober in Bloemfontein. FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – Nasiebou is nie om van die een na die volgende groot sportgeleentheid te strompel nie. Dit gaan nie oor ‘n dag of vier se goedvoel ná ‘n oorwinning op die rugbyveld nie. Dit gaan oor die erkenning dat Suid-Afrika ‘n land van diversiteit en verskeidenheid is.

So het die leier van die VF Plus dr. Corné Mulder Vrydag 2 Oktober in Bloemfontein aan gaste by ‘n sake-ontbyt gesê. “Dit is in ons almal se belang om deel te wees van iets groters. Ons is soos ‘n vrugteslaai – sommige is papajas, sommige is appels, sommiges is lemoene, maar saam maak ons ‘n vrugteslaai. Ons wil nie ‘n smoothie wees nie.”

Dr. Corné Mulder (regs) was Vrydag 2 Oktober die spreker
Dr. Corné Mulder (regs) was Vrydag 2 Oktober die spreker by ‘n ontbytgeselligheid van die VF Plus. By hom is van links Werner Wessels (voorsitter van die VF Plus) en Elizabeth Snyman-van Deventer (die VF Plus se burgermeesterskandidaat in die Mangaung-metro). FOTO: Lientjie Mentz

Mulder sê daar kom beslis ‘n koalisie in die Mangaung-metro. “Die ANC gaan nie op die proporsionele stembrief in dié metro verskyn nie. Die vraag is wat mense gaan doen wat tradisioneel vir die ANC gestem het. Vir wie gaan hulle op die tweede stembrief stem?” Hy sê egter die gety het reeds met 2021 se plaaslike verkiesing in die metro begin verander toe die ANC met slegs 50.03% ‘n meerderheid behaal het.”

Lees ook: Constitutional Court bid ANC’s last resort to get candidates on ballot for 2026 election.

Hy sê die politieke bestel verander nou vinnig. “Suid-Afrikaners oral is siek en sat vir wetteloosheid. Hulle is moeg daarvoor dat die ANC vir 30 jaar die land dikteer het. Mense is desperaat vir dissipline.

“Dit is tyd dat mense terugkeer na goeie waardes.” Volgens Mulder sien 80% van Suid-Afrikaners hulself as Christene, met tradisionele, konserwatiewe familiewaardes. “Dit sluit alles van ekonomiese waardes, politieke en sosiale waardes en eiendomsreg in. Lande wat hul regering op sulke waardes skoei, is suksesvol,” sê hy.

In die 2024 kon die ANC nie ‘n nasionale meerderheid kry nie. “Die houvas van die ANC op mense is gebreek. Nou kan dit uitkring na plaaslike regering in plekke soos die Mangaung-metro.”

Hy sê daar moet ruimte en plek wees vir almal in die land. “Gemeenskappe moet eerste gestel word.”

Mulder sê die eerste punt op die VF Plus se manifes is dat gemeenskappe oor hulself moet besluit. “Geld wat in ‘n wyk vir munisipale belasting betaal word, moet teruggaan na daardie wyk. Nasionale fondse moet help daar waar nood is.”

Hy sê die regte mense vir poste moet aangestel word en die munisipaliteit moet vir die inwoners werk.

Hy verskil van die DA wat sê dat dit 10 tot 15 jaar gaan duur om munisipaliteite reg te ruk. “Ons het nie 10 jaar nie. Amptenare wat reeds in poste is, moet met die regte leierskap geïnspireer word. Of die Mangaung-metro die verval van die stad kan keer, hang af van waarvoor inwoners gaan stem,” sê hy.

“Daar moet van die begin af gestem word vir bekostigbare belasting. Meer geld moet bestee word aan herstelwerk van infrastruktuur en minder aan salarisse.”

Mulder sê Suid-Afrika is die tuiste van alle Suid-Afrikaners. “Die 20 000 jong boere in die VSA moet terugkom huis toe. Daar moet vir hulle hier ‘n toekoms wees.

“Swart Ekonomiese Bemagtiging het nooit plaasgevind nie,” sê hy. “Dit het eerder gelei tot Swart Elite Bemagtinging.

“Ons land kort meer entrepreneurs om saam te werk aan ‘n nie-rassige, een Suid-Afrika.”

Mulder sê hy sien uit na die verkiesing en die verandering wat kan kom. Hy glo die Mangaung-metro gaan uit ‘n koalisie-regering bestaan en sê daar sal ná die verkiesing gekyk moet word hoe die samestelling van so ‘n koalisie gaan lyk, maar hy sê die VF Plus is reg om saam te werk om ‘n verskil te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article