Die Mangaung-metro se raad gaan aansienlik verander met die plaaslike verkiesing op 4 November.

Dit is onvermydelik nadat die ANC in Mangaung nie betyds voor die spertyd sy lyste van nominasies vir proporsionele raadslede by die OVK ingedien het nie.

Die uitspraak van die Kieshof op 16 September het die ANC finaal bloedneus gegee met ‘n uitspraak dat die lyste nie aanvaar sal word nie.

Dr. Harland Cloete, skrywer en politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, sê hoewel die ANC se wykskandidate op die een stembrief op 4 November sal verskyn, sal die ANC glad nie as party op die lys van partye verskyn nie.

Ironies genoeg beteken dit dat die ANC se agt burgermeesterskandidate waarvan talle nou hoë posisies in die raad inneem, nie in aanmerking sal kom vir poste in die raad nie.

Dit sluit die huidige burgermeester Gregory Nthatisi, die onder-burgermeester Lulama Titi-Odili en die speaker Lawrence Mathae in.

Die ANC het tydens die vorige plaaslike verkiesing in 2021 51 setels verower waarvan 40 raadslede is.

Die DA in Mangaung het met die vorige verkiesing 11 wyke verower en het in totaal 26 raadslede gehad.

Die EFF het in die vorige verkiesing 12 proposionele stemme gehad, die VF Plus 5 setels, die Patriotic Alliance (PA) 2, die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) 2, Afrikcan Independet Congress 1, African Christian Democratic Party (ACDO) 1 en African Transformation Movement (ATM) 1.

Die raad het 101 setels waaruit 51 uit wyksraadslede bestaan en die res proporsioneel uit die stemme vir partye op die tweede stembrief saamgestel word.

Cloete sê met die komende verkiesing is ‘n koalisie-regering hoogs waarskynlik.

Nog ‘n groot invloed op oor hoe mense gaan stem, is voormalige alliansie-vennote soos die SAKP wat in hierdie verkiesing hul eie kandidatelyste het.

“Die ANC kom na die verkiesing toe op krukke. Hulle sal soveel moontlik wyke moet wen om verteenwoordigend in die raad te wees.”

Hy sê die twee grootste verloorders in die verkiesing sal die pas aangee in hoe ‘n koalisie saamgestel word.

‘n Interessante fenomeen volgens Cloete is die gemeenskapsgebasseerde partye wat vanjaar aan die verkiesing deelneem.

Dit sluit partye in soos die United Residents Front en Active Citizens of South Africa.

Die sewe voormalige ANC lede wat geskors is omdat hulle teen die ANC se besluite in 2023 gestem het, keer terug onder Mangaung Seven People’s Voices.

Daar is ook onafhanklike kandidate wat hulle verkiesbaar stel.

Cloete sê politiek word toenemend as ‘n loopbaan gesien met ‘n setel wat ‘n goeie inkomste vir vyf jaar bied.

Die verkiesing is die eerste stap vir individue om hul voet in die deur te kry.

Daar staan nou 122 onafhanklike kandidate in die verkiesing.

“Daar is egter ‘n styl leerkurwe vir mense wat die eerste keer tot die raad verkies word. Dit neem ‘n hele ruk om te verstaan hoe alles binne die metro werk.”

Cloete sê politiek is baie vloeibaar. Dit kan gesien word op plaaslike vlak met deelname aan die verkiesing en die opmars na stemdag op

4 November.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article