Bram Fischer-gebou, Bloemfontein
Die Bram Fischer-gebou, setel van die Mangaung-metro. FOTO: Lientjie Mentz

Mangaung se finansiële bestuur van die pad af

,

Daar is wyd kommer oor die Mangaung-metro wat een van 69 munisipaliteite is wat nie in Julie fondse van Nasionale Tesourie ontvang nie.

Armand Cloete, FV Plus-wetgewerlid, sê die stap sal inwoners wat reeds onder swak dienslewering gebuk gaan, verder benadeel.

Nasionale Tesourie het in ‘n nuusverklaring op 7 Julie aangekondig dat befondsing weerhou gaan word in ‘n poging om onreëlmatige en vermorste uitgawes by munisipaliteite, te keer.

Werner Pretorius, die DA se burgermeesterskandidaat vir die Mangaung-metro, sê die tydelike weerhouding van die fondse is weens voortdurende mislukking in finansiële bestuur in die metro.

“Die tesourie se stap bevestig wat die DA al lank sê: Mangaung se geldelike krisis is nie die gevolg van onvoldoende geld nie. Die munisipaliteit het al verskeie ingrypings deur Nasionale Tesourie en die provinsiale tesourie beleef. Steeds gaan die munisipaliteit wat deur die ANC regeer word voort sonder om onregmatige uitgawes hok te slaan en aanspreeklikheid af te dwing,” sê Pretorius.

Cloete sê die VF Plus steun streng finansiële dissipline, maar wil beklemtoon dat dissipline weinig beteken wanneer amptenare en politieke ampsdraers jaar ná jaar onwettige, onreëlmatige en vermorste uitgawes toelaat sonder enige aanspreeklikheid.

“In ANC-beheerde munisipaliteite word komitees soos die munisipale openbare rekeninge-komitee (MPAC) dikwels verhinder om behoorlik te funksioneer. In stede daarvan dat vermorste fondse ondersoek en verhaal word, word verliese bloot afgeskryf.

Só word kaders beskerm, terwyl inwoners die rekening betaal.”

Die voorsitter van Mangaung se MPAC, Itumeleng Makoloane, het op Maandag 29 Junie tydens die laaste raadsvergadering bedank.

Volgens die verklaring van tesourie het die munisipaliteite voldoende skriftelike kennisgewing ontvang en is aangespoor om maatreëls te tref om hul finansiële bestuur te veran-

der. Daar is ook aan hulle ‘n platform gegee om skriftelik redes in te dien waarom hul fondse nie weerhou moet word nie. Volgens die tesourie sal fondse betaal word sodra die betrokke munisipaliteite aan die vereiste voorwaardes voldoen en bewys lewer dat hulle dit gedoen het. Een vereiste is ‘n minimum 25% vermindering in ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en vermorsende uitgawes.

Nasionale en provinsiale tesourieë het gesê hulle sal voortgaan om met munisipaliteite wat deur hierdie stap geraak word, te skakel en hulle te ondersteun om nakoming te verseker.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article