Vroue van drie verskillende handwerkgroepe het op Donderdag 16 Julie hul deel gedoen vir die Oorlogsmuseum se Hekelblokke vir Emily.
Dit het saamgeval met vanjaar se 67 Komberse vir Mandeladag-projek wat vanjaar vir die derde jaar agtereenvolgens by die Oorlogsmuseum gehou is.

Sowat 30 vroue van Jamilla Weimers (Mamma G) se Knit Wits en Secret Scarves Shh-groep, Iessie Steenberg se Brei, hekel en stik-groep en Eureka Pottas se Hekel en klets-Bloemfontein-groep het binne 67 minute in die Sante Fé-kafee by die museum blokkies gebrei en gehekel.
Dané Swanepoel van die Oorlogsmuseum verduidelik dit is die bekendstelling van die projek Hekelblokkies vir Emily waarop komberse oorhandig gaan word op ‘n gedenkdag ter ere van Emily Hobhouse by die museum op 31 Oktober.

As deel van die bekendstelling van die geleentheid, het die begaafde gr. 11-leerlder van die St. Andrews-skool Siyabonga Gans ‘n opdragwerk van die museum bekend gestel.
Louis Venter van die Oorlogsmeuum, verduidelik dit is een van die museum se jaarlikse jeugkunsprojekte.
“Ons het vir Siyabonga versoek om drie kunswerke te maak wat ‘n kombinasie van die verlede en hede uitbeeld. Hy het self vorendag gekom met die besonderse konsep om ‘n beeld uit die destydse konsentrasiekampe uit die Anglo-Boereoorlog op een skildery met ‘n beeld uit ‘n hedendaagse plakkerskamp op die ander uit te beeld.”

Op die middelste skildery verskyn ‘n vrou geklee in ‘n rok van sy ouma. Sy brei ‘n blokkieskombers wat Mamma G spesiaal vir die kunswerk gemaak is.
Siyabonga verduidelik hy het by sy ouma in haar huis in ‘n township sowat 30km buite Bloemfontein gaan kuier. Daar het sy kunsonderwyser hom gehelp om foto’s te neem van die sinkhuisies wat volgens hom herinner aan die destydse plakkerskampe. “Die mense wat hier bly, kry vandag net so swaar,” sê Siyabonga.
Die skildery sal nou deel word van die Oorlogsmuseum se permanente uitstalling.
Die blokkies wat tydens die 67-minute op 16 Julie gebrei is, gaan saam met ander skenkings deel vorm van ‘n wolbom op 31 Oktober. Enigeen is welkom om komberse van van 1,2m x1,5 m wat geskik is vir gebruik deur ‘n hoërskoolkind, te help brei of hekel. Die publiek kan ook blokkies brei wat deur die ywerige vroue soos Mamma G kunstig aanmekaargewerk sal word.
Swanepoel sê enigeen kan aan die projek deelneem. “Ons hoop om sowat 800 komberse in te samel wat aan leerders en behoeftiges uitgedeel gaan word.” Sy sê die komberse of blokkies kan nog tot einde September by die Oorlogsmuseum afgelaai word vir die Breiblokkies vir Emily-wolbom.






You must be logged in to post a comment.