Daar is Vrydagaand heftig gebie op pragtige kunswerke van kinders op Engo se Meesterstuk 5-konsert, met een skildery wat selfs twee keer die ronde gedoen het en só meer as R40 000 behaal het.
Die jaarlikse geldinsamelingsgeleentheid vir Engo se vyf kinderhuise – Carpe Diem in Universitas, Gardeniapark-huis, Gladstone-huis in Bayswater, Esperanza in Bainsvlei en Huis Amor in Willows – is weer by Leopards and Lace aangebied. Die huise versorg ongeveer 50 kinders.

Meer as 700 mense het die Meesterstuk-gesellighede op 22 en 23 Mei bygewoon. Hier het kinders konsert gehou en hartsboodskappe met die gehoor gedeel.
Cèzanne Yzelle was vanjaar die gaskunstenaar wat saam met die kinders opgetree het in die konsert Die lewe is ‘n lied. Die kinders het Saterdag se geleentheid met ‘n sokkie by Leopards and Lace afgesluit en het ‘n ete en nagereg geniet.
Benewens die kinders se kuns op elke tafel, wat danksy afslaer Juan Maree opgeveil is, is drie kunswerke van Siyabonga Gans ook vanjaar weer opgeveil.

Engo skenk vanjaar ‘n vyfde keer ‘n bedrag aan Siyabonga om hom te help met sy maandelikse uitgawes en behoeftes.
Die presiese bedrag wat vanjaar met die veiling ingesamel is, was teen BloemNuusExpress se druktyd nog nie bekend nie; maar wat wel bevestig is, is dat daar op Vrydagaand alleen meer as R200 000 met die veiling ingesamel is.





You must be logged in to post a comment.