Met die plakkaat van Engo se Lente Genadefees by Ons Kinderhuis is van links Tarisa Joubert (Engo), Riaan Naude (stigter van die fees) en Karen Beukes (bestuurder van Engo se Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum). FOTO: Lientjie Mentz

Fees vol hoop gee verjaardag ekstra vreugde

, , ,
Met die plakkaat van Engo se Lente Genadefees by Ons Kinderhuis is van links Tarisa Joubert (Engo), Riaan Naude (stigter van die fees) en Karen Beukes (bestuurder van Engo se Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum). FOTO: Lientjie Mentz

Die lente is ‘n tyd van nuwe hoop, nuwe begin en dankbaarheid.

Dit is nie net die derde keer dat die Lente Genadefees ten bate van Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum aangebied word nie; die geleentheid verteenwoordig ook ‘n feesdag op dié sentrum se 112de verjaardag.

Riaan Naudé vertel die gedagte agter die fees het in 2024 ontstaan.

Riaan Naude
Riaan Naudé, stigter van Engo se Lente Genadefees. FOTO: Verskaf

“Dit was ‘n donker tyd in my lewe. Die Heilige Gees het vir my gewys dat ek so ‘n fees moet aanbied.”

Hy het sy kunstenaarsvriende genader en binne twee maande ‘n onvergeetlike geleentheid aangebied.

“Die jaar daarna het ek Jannie Moolman gekontak om deel van die fees te wees, saam met plaaslike kunstenaars. Dit was ‘n wenresep wat ons vanjaar op ‘n vars en mooi manier gaan herhaal,” sê Naudé.

Kunstenaars Du Preez en Jana Stoltz, Jaco Bezuidenhout, Jannie Moolman, Ella Kotze, Ilse Fourie, Levert Solomons, Riaan Naudé en die Unimus-orkes onder leiding van Anton Esterhuyse sal op die geleentheid op 11 September te sien wees.

Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum (Ons Kinderhuis) in Bloemfontein is een van Engo se jeugsentrums, waar 137 kinders versorg en ondersteun word.

Naude sê elke liedjie vir die program word gekies om by die kunstenaar wat dit uitvoer te pas.

“Daar is regdeur die vertoning ‘n boodskap van hoop. Elke noot en elke liriek se begin en einde vorm deel van die eenheid.”

Die Lente Genadefees is benewens ‘n aand van vermaak ‘n geleentheid waar die gemeenskap saam ‘n bydrae tot Engo se werk kan lewer.

Deur ‘n kaartjie te koop, ondersteun hulle die kinders van Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum en help hulle om hoop vir die toekoms te skep.

‘n Snoepie sal oop wees, waar ‘n verskeidenheid eet- en drinkgoed te koop sal wees.

Karen Beukes, bestuurder van Ons Kinderhuis, sê dit is ‘n hoogtepunt in die sentrum se jaar.

“Dit is ‘n voorreg dat hierdie gehalte-kunstenaars ten bate van die sentrum optree. Dit is ook baie spesiaal omdat die aand op Ons Kinderhuis se verjaardag val,” meen Beukes.

“Dit is vir ons lekker om te sê die Lente Genadefees is sinoniem met Ons Kinderhuis. Daarmee gee ons eer aan God vir besonderse gawes wat hy vir mense soos Riaan en die ander kunstenaars gegee het,” sê Beukes.

Die geleentheid begin om 18:30 vir 19:00 en beloof inspirerende musiek en ‘n hartlike atmosfeer. Kaartjies kos R100.

Kaartjies is beskikbaar by Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum in Victoriaweg, Bloemfontein, Engo se provinsiale kantoor en die Geloofsentrum. Kaartjies kan ook op Engo se webwerf gekoop word.

Vir meer inligting of kaartjiebesprekings, kontak Engo se provinsiale kantoor by 051 407 7205, die Geloofsentrum by 081 828 9536, of Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum by 051 444 2938.

E-pos kan ook gestuur word na ontvangs@vrionskinders.org.za.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article