BLOEMFONTEIN – Kuns maak saak. Dit skep ‘n ruimte vir stories, taal, denke en verbeelding.
Dit was die boodskap van Michael Garbett, feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees, met die programbekendstelling tydens ‘n geselligheid by die Koekela-koffiehuis op Woensdag 8 April in Bloemfontein.
Garbett sê die kunste is ‘n noodsaaklike ruimte vir menslikheid en verbintenisse. “Daarom nooi ons almal om vanjaar hul stories met ons te kom deel.”
Kuns is die taal waarin mense nie hoef weg te kruip nie. Dit is ’n plek waar hulle kan rou, erkenning vind en hulself eerlik kan uitdruk. Garbett sê ook kuns word selfs ryker en meer betekenisvol wanneer dit gedeel word.

Die Vrystaat Kunstefees wat van 7 tot 11 Julie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied word, is ’n kragtige voorbeeld van wat moontlik is wanneer akademie en kuns hande vat.
Die vennootskap tussen die UV en die fees is sentraal tot die sukses en impak daarvan.
Prof. Vasu Reddy, adjunk-visekanselier van navorsing, innovasie en nagraadse studies van die UV, het in sy digitale toespraak hierdie samewerking beklemtoon. “By die UV glo ons die kunste maak saak. Nie eendag nie, maar nou. Die kunste help ons om beter vrae te vra. Dit help ons om toekomsvisies te verbeel wat meer regverdig, meer menslik en meer verantwoordelik is.”
Hy het gesê die fees herinner mense daaraan dat kennis nie net geskryf word nie, dit word ook uitgevoer, geskilder, gesing en opgevoer. Dit leef in stories, beweging, klank en gedeelde ervaring.

Marijda Kamper, programbestuurder van die Vrystaat Kunstefees, het op die geleentheid ’n nuwe beurs bekend gestel. Die Crystal Donna Roberts-beurs wat vanaf volgende jaar beskikbaar sal wees, gaan toegeken word aan ‘n nagraadse student in enige kunsdissipline.
Die beurs is ’n huldeblyk aan Roberts, ’n voormalige dramastudent aan die UV en bekende aktrise wat verlede jaar aan kanker oorlede is. Haar nalatenskap leef voort deur hierdie inisiatief wat toekomstige kunstenaars sal ondersteun en inspireer.
“Ons hoop hierdie beurs sal dien as ’n betekenisvolle huldeblyk aan Roberts. Ons hoop dit is ’n manier om te verseker dat haar nalatenskap voortleef deur deure oop te maak, moontlikhede te skep en ’n ander persoon op hul reis te vergesel. Daar is iets diep roerend daarin: dat uit herinnering geleenthede kan groei, en dat uit verlies steeds vernuwing kan ontstaan,” het Kamper gesê.
- Die Vrystaat Kunstefees se 2026-program beloof om ’n viering van kreatiwiteit, samewerking en betekenisvolle betrokkenheid te wees. Die volledige program is beskikbaar op die webwerf vrystaatkunstefees.co.za. Kaartjieverkope is ook amptelik oop. Kry jou kaartjies op Webtickets.co.za.






You must be logged in to post a comment.